Skop die ou op die neus
My mentor sê altyd die eerste ding wat ’n mens in die dag doen, is om eers stil te raak en met jou Skepper te praat. Ek kry dit nie altyd reg nie. Soms is ek net te vroeg op en dan blaai ek deur die dag se nuus om net eers heel wakker te word.
Vanoggend is ek weer duskant 04:00 op en nog net halfpad by, toe ek afkom op ’n artikel van Herman Linde, ’n plaasbestuurder van Marloth Park, naby die Kruger Wildtuin. Nadat hy sy werkers afgelaai het, het hy gaan kyk hoe vorder die kantoorbouery.
Toe hy om ’n draai stap, stap hy in ’n kwaai luiperd vas. Herman vertel dat die luiperd net een harde brul gegee het voor hy op hom afgestorm het. Herman kon vinnig binne ’n klein geboutjie inglip, maar die veiligheidshek se openinge was te wyd om hom te beskerm.
Die luiperd wou hom met alle mag gryp en het later probeer om sy kop onderdeur die hek te druk. Herman het hom ’n paar keer op die neus geskop, waarna die luiperd die aftog geblaas het.
Die luiperd het weliswaar ook ’n paar kaphoue gekry as gevolg van Herman se verdediging. Gelukkig vir Herman was die luiperdmannetjie oud en beseer. As dit ’n jong, sterk en gesonde luiperd was, was die uitkoms dalk heel anders.
Ek maak Maroela Media se nuus toe en maak my Bybel op die skerm oop. Die vers wat ek vir die dag moet lees:
8In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg.
Ek kry so ’n skalkse glimlag vir ons Vader se timing en humor. Ek verstaan dadelik wat die vers beteken.
Dit is ’n realiteit soos ’n koei! Die duiwel loop soos ’n brullende leeu of luiperd deur die wêreld. Hy is kwaad en hy is beseer, wat hom net nog gevaarliker maak. Hy gaan om elke hoek probeer om jou onder te kry.
Versoekings lê wyd gesaai. Fisiese versoekings wat die vlees wil verlei en uitlok. Emosionele versoekings wat selfsugtigheid aanwakker. Geestelike versoekings wat op misleiding kan uitloop.
Dis dan wanneer ons moet baklei. Ons moet vasstaan en die versoekings teenstaan. Ons moet staande bly en sorg dat ons nie van God se pad afgesleep word nie. Met alles in ons moet ons terugbaklei.
Moenie toe-oë deur die lewe gaan en dink die duiwel sal jou verbygaan nie. Almal kom in sy visier. Verwag hom en wanneer hy opdaag, trek die bokshandskoene aan. Dryf die versoeking met alle mag uit jou lewe en as hy sy kop onderdeur die hek probeer indruk, skop hom op die neus.
Daar in die woestyn het Jesus die duiwel se versoekings een vir een vir ’n ses gepos. Aan die kruis het Jesus hom oorwin, daarom kon die duiwel nie vir Jesus in die doderyk vasdruk nie. Hy is nou besig met die laaste stuiptrekkings en gaan sy bes probeer om vir jou en my van die pad af te kry met sy versoekings. Weet dit, verwag hom en wanneer hy opdaag, met die hulp van die Heilige Gees, skop hom op die neus.
Teks
1 Petrus 5:5-8
Om oor na te dink
Waar kom val die duiwel jou aan?
Watter versoekings daag by jou deur op?
Hoe kan en moet jy dit teenstaan?
Gebed
Vader, ek besef die duiwel is ’n realiteit en val ’n mens al te gereeld aan. Help my om die ou teen te staan en elke keer op die neus te skop. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
