Skuldig voor die wet, maar tog vry
Wanneer ’n moordenaar voor die regter staan, help dit niks dat hy vertel hoe goeie vader hy vir sy kinders was of hoe ’n goeie man vir sy vrou nie. Dit help nie hy vertel al die stories waar hy elke dag mense se nood verlig het nie. Niks van sy goeie dade vee die moord wat hy gepleeg het uit nie. Voor die wet van die land is hy skuldig.
Net so, as ’n mens ’n leuen vertel, help dit nie dat jy in alle gevalle elke stukkie van die wet reg gelewe het nie. ’n Klomp plusse kan nie een negatief uitwis nie. Wanneer ’n mens een “klein” sondetjie gedoen het, staan jy skuldig voor God.
Kom ons stel dit nog eenvoudiger. Die opsomming van die wet is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Indien ons dan êrens langs die pad lelik is met iemand hier naby ons, dalk iets krom sê of eenvoudig net nie vriendelik is nie, oortree ons die wet.
Dan is ons net so skuldig soos die moordenaar of die man of vrou wat oor die grense van die huwelik gekuier het.
Daar is nie verskillende grade in sonde nie. Daar is nie klein sondes en groot sondes nie. Die moordenaar is nie slegter as die leuenaar nie. Die ontroue persoon se sonde is nie groter as die een wat afkyk in die eksamen nie.
As jy een sonde gedoen het, of dit moord is en of dit is dat jy nie aandag gegee het aan iemand in jou kring wat seer het nie, het jy die wet oortree. Dan staan jy skuldig voor God.
10Dit help nie dat ’n mens die meeste van God se wette presies hou, maar jou aan een van hulle nie steur nie. Al is dit net daardie één wat jy nie wil doen nie, is dit so goed of jy die rug draai vir alles wat God van jou vra.
Ek dink ons fluister dikwels vir onsself dat dit darem nie so erg is nie. Dit was eintlik net ’n glipsie. Ons sal dit nie weer doen nie of wel ten minste probeer om dit nie te doen nie en met hierdie redenasie koop ons ons skuld af en dink ons ons is onskuldig.
Tog bly ons skuldig en nee, daar is niks wat ons kan doen om die skuld wat teen ons naam staan, uit te vee nie. Net soos die moordenaars en die leuenaars, soos die owerspelers en die luies, staan ons skuldig voor die hele wet van God.
Voel jy sleg oor jou sondes? Voel jy vuil en teleurgesteld dat jy weer gefaal en geval het? Wel, dis eintlik heel gepas, want ons moet so voel as ons God se wet oortree het. Dis die wet wat ons vasketting. Niemand kan dit ontsnap nie. Dis wat wette doen, dit sluit ons toe, pak bagasie op ons en neem ons vryheid weg.
Wanneer ons dan nou verstaan wat ons eintlik verdien, maak Jesus se dood aan die kruis soveel meer sin. Dan besef ons werklik wat Hy gedoen het om die kettings van die wet af te breek.
Dankie tog vir Jesus, wie juis kom sterf het vir my oortredinge teen die wet. Hy kom haal die swaar las af en ek kan waarlik vry lewe saam met die moordenaars en die leuenaars, die wat owerspel pleeg en die wat saam met my nie aldag die mense naby my met my hele hart lief het nie.
Teks
Jakobus 2:8-13
Om oor na te dink
Waar oortree jy die wet van God?
Hoe kan jy dit minder maak?
Wat bring Jesus in jou lewe?
Gebed
Vader, ek sit heel gereeld die pot mis. Ek besef dat ’n hoop goeie dade nie die een verkeerde ene uitvee nie. Help my om minder oor die grense te beur. Dankie vir Jesus se kruisdood. Anders sou ek dit vir seker nie gemaak het nie. In Jesus se Naam. Amen.
