God se Woord in vandag se woorde

Steen en been taboe


Klik hier https://youtu.be/-irqUjMhxYo om na Sondag se preek van Gerjo Ben: Worries? Skuif jou kop! op YouTube te kyk.

Wanneer Germane in die ou dae wou kla, het hulle na heilige stene gegaan om daar hulle lot te bekla. In die Christendom het die mense weer gaan kla by ’n graf van ’n heilige of by ’n altaar of selfs by een of ander klipbeeld.

Dis hiervandaan wat ons die idioom kry om steen en been te kla. Steen en been kla, is wanneer ’n mens erg kla. Dis baie meer as net die uitspreek van mismoedigheid oor ’n ander se manier van doen en praat. Dis erg aangaan, soveel so dat die ouens in die ou tyd na ’n heilige sou gaan en daar sy lot sou bekla.

Ek het gedink dis net ons mense wat so baie kla. Nou kom ek agter dit kom al ’n lang tyd aan. Lyk my dis eintlik ’n nasionale sport om te kla. Ons kla oor die kinders. Ons kla oor ons ouers. Ons kla oor ons werk. Ons kla oor ons land se bestuur. Ons kla sommer ook oor ons vriende wat nie wil maak soos ons maak nie. Ons kla.

Selfs die ouens in Jakobus se tyd het gekla, soveel so dat Jakobus die mense aanvat: 9Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom.

Die woorde het op die meeste van ons betrekking. So maklik maak ons ons monde oop en kla en kritiseer ander. Die meeste van die kere as hulle doen en late nie inpas by ons manier van doen en praat nie.

Om so te kla, is egter erg negatief. Kla breek ander af. Kla skep ’n winterklimaat waar almal koud kry. Kla breek af en bou nie op nie. Kla ontneem groei. Kla perk mense in. Kla is die handrem wat keer dat mense by hulle volle potensiaal uitkom.

Hier is ’n uitdaging vir ons almal. As jy nie iets mooi oor iemand anders kan sê nie, hou dan maar eerder jou mond toe. Maar ons kry dit nie reg nie. Dis mos eintlik lekker om stories te vertel, veral van ander.

Het jy gehoor die of daai het nou weer so en so gedoen? Ja, jong, die kinders van vandag. Weet ook nie eintlik waar hulle gaan opdaag nie, maar dit gaan nie ’n goeie plek wees nie en dan word daar sommer ’n stertjie aan die storie gelas, om dit nog meer souserig te maak.

Wanneer die stories met stertjies dan weer by die persoon waaroor gekla word, opdaag, breek dit af. Die persoon kan nie glo wat alles gesê word nie en soveel keer was dit genoeg rede vir die persoon om moed op te gee.

Kom ons hoor die raad. Kom ons maak dit deel van ons dag en konsentreer om nie steen en been te kla nie. Kom ons probeer regtig om nie ons mond oop te maak as ons nie iets moois kan sê nie.

Onthou, God is die enigste een wat genoeg wysheid het om te oordeel. So, wanneer jy wil kla, gaan eerder na God en nie na ’n steen toe nie. Los jou pakkie kla by Hom en bly soek die mooi in ander. Almal het êrens ’n stukkie daarvan.

Teks
Jakobus 5:7-12

Om oor na te dink
As jy eerlik moet wees, waar is ander al moeg vir jou gekla?
Hoe kan jy dit minder doen?
Hoe kan jy probeer om net die goeie te sê?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek gereeld kla, veral oor ander mense om my. Ek sal gehoor gee aan die voorstel en probeer om net positiewe uit my mond oor ander te sê. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek