Stilte in die storm
Herman stuur vir my ’n skermskoot van ’n boodskap wat sy vriend vir hom gestuur het. Hy wil weet of dit waar is. Die boodskap is soos volg:
Was gister by ’n publieke lesing wat aangebied is deur die Universiteit van X se teologiese fakulteit met die naam “Homosexuality in the Old Testament”. Die lesing is aangebied deur Prof. Thomas Römer van Frankryk.
Volgens hom is:
-
-
- Die Bybel nie die Woord van God nie.
- God is ’n uitvindsel (“invention”).
- Menseregte is meer gesaghebbend as die Bybel.
- Interpretasie is subjektief.
- En nog meer.
-
Hy is toegejuig deur die lektore en studente van die teologiese fakulteit.
Ek het ’n blaadjie met die evangelie op na die tyd vir hom gegee.
Wat alles presies tydens die praatjie gesê is, weet ’n mens nie, maar die interpretasie van Herman se vriend laat ’n mens se hare regop staan. Ek skryf terug:
Dis nie wat ek glo nie, Herman. Die Bybel waarsku ons dat daar in die eindtye mense gaan opstaan wat onwaarhede as waarhede verkondig. Vir seker lewe God. God is regtig, want as dit nie vir Hom was nie, was ons ook nie meer hier nie. Ek glo dat sy Woord waar is.
Net die volgende oggend, toe ek in my studeerkamer kom stil word, is my vers vir die dag die volgende: 9Titus, nog ’n stukkie persoonlike raad aan jou: moenie in argumente betrokke raak met ander mense wat probeer om ons geloof belaglik te maak nie. Vermy ook ’n stryery met diegene wat sê dat net ware Israeliete deur God gered sal word as hulle oor die nodige geslagsregisters beskik om dit te bewys. Moet ook nie jou tyd mors om met ander te stry oor hoe ons die wet van Moses moet probeer hou nie. Al hierdie gesprekke en argumente help net mooi niks nie. Dis ’n mors van kosbare tyd.
Alhoewel dit hier oor die warm onderwerpe in Paulus se tyd gaan, naamlik die Jode en die wet van Moses, leer ons ook hoe Herman, sy vriend en ons vandag moet optree. Die meeste van die kere moet ons hulle nie probeer aanvat nie. (Ek sê juis “meeste van die kere,” want soms lei die Heilige Gees ons tog om ons sê te sê!)
Met hulle brein-gimnastiek gaan hulle jou rol. Hulle is so oortuig van al die dinge, dat hulle nie ’n stukkie ruimte het vir ander se woorde nie. Die beste is om hulle te wys wat jy glo.
Ek haal my hoed vir Herman se vriend af, wat tog nie net stilgebly het nie en vir die grote professor ’n blaadjie oor die Evangelie gegee het. Nou kan hy net bid dat die stukkie saad sal wortel skiet en die Heilige Gees dit sal laat groei.
Teks
Tit 3:8-11
Om oor na te dink
Is dit soms moeilik vir jou om nie so ’n persoon aan te vat nie?
Weet jy wanneer jy iets moet sê en wanneer jy eerder moet stilbly?
Hoe kan jy meer getuig deur jou lewe?
Gebed
Vader, ek kry die mense wat so vêr van die pad af is, so bitterlik jammer. Ek tree nou vir elkeen van hulle in en vra dat U Uself aan hulle sal openbaar. Help my ook om ‘n lewendige getuie van U waarheid te wees. In Jesus se Naam, amen.
