God se Woord in vandag se woorde

Takseer die baadjie


Lonzo Green was ’n baie bekende country-sanger in Amerika. Hy het eendag by sy nefie, Jim, se huis opgedaag. Jim se vriende was natuurlik, soos enige tienerseun sou wees, baie opgewonde om so ’n bekende sanger te ontmoet.

Een van Jim se vriende is nie deur sy ouers toegelaat om die huis in te kom nie, want hy was van die verkeerde kant van die spoorlyn. Net omdat hulle arm was, is daar op die kind neergekyk en is hy as white trash beskou.

Jim het vir Lonzo vertel van die vriend van hom, dat hy ’n kitaar het en nie weet hoe om dit in te stel nie. Lonzo het dadelik gesê dat hy hom graag sal wys hoe. Hulle moes natuurlik reël dat hulle sy vriend buite Jim se ouers se huis in die straat ontmoet.

Jim se vriend was duidelik ongemaklik en het nie lekker ingepas in hierdie hoëklas geselskap nie. Sy kitaar was oud en het aan ’n tou om sy nek gehang.

Lonzo het hom egter nie laat beïnvloed deur hoe die seun lyk of waarvandaan hy kom nie. Hy het nie omgegee watter kant van die treinspoor hy gebly het nie en het vir twee ure lank vir hom gewys hoe om kitaar te speel. Jim se vriend het al hoe gemakliker geraak en saam gesing.

Jim se vriend het later die King of rock geraak, naamlik Elvis Presley.

Hier is duidelik twee groepe mense. Jim en Lonzo aan die een kant en Jim se ouers aan die ander kant. Vir die een groep was wie jy is, waar jy vandaan kom, hoe jy lyk en hoe vol jou sakke is, belangrik.

Vir die ander groep het dit glad nie saakgemaak nie. Soos die spreekwoord lei, het die groep Elvis op sy baadjie getakseer. Vir die ander groep het niks hiervan saakgemaak nie en het hulle net die mens raakgesien.

9As julle egter party mense begin voortrek en beter behandel as ander omdat hulle menslik gesproke belangrik lyk, doen julle nie wat God van julle vra nie. Volgens die wet van die Koning is julle dan niks beter as tronkvoëls wat nie wil luister na sy wet nie.

Sjoe, dis nogal reguit gesê. Eintlik is Jim se ouers soos diewe en rowers en moordenaars wat in die tronk sit. Hulle het die een groot gebod van Jesus nie nagekom nie. Die een van jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Hulle is soos tronkvoëls en hoort met hierdie gedrag eintlik in die tronk.

Laat ons nie in ’n soortgelyke strik trap nie. Laat ons nie soos Jim se ouers wees nie, maar eerder soos sy oom. Laat ons verby mense se baadjies kyk. Laat ons nie toelaat dat die verslete klere of die reuk of die kant van die treinspoor waar hulle bly, ons beïnvloed om hulle as ons naaste te sien en hulle juis so lief soos onsself te hê nie. Dan gaan ons die wet van die Koning nakom en gaan ons werklik ’n verskil maak.

Teks
Jakobus 2:8-13

Om oor na te dink
Wie is jou naaste?
Waar het jy al jou naaste mis gelewe?
Waar moet jy nou juis uitreik na jou naaste?

Gebed
Vader, daar is tye wanneer ek nie tyd het vir my naaste nie. Ek moet dit bieg. Ek besef dat ek dan nie beter is as die mense in die tronk nie. Help my om tyd te maak en ’n verskil in my naaste se lewe te maak. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek