Tree vir tree saam
Ek kyk op die televisie na ’n onderhoud wat dr. Ali Bacher met Frik du Preez, die oud-Springbokrugbyspeler het. Frik vertel dat dit in daardie dae anders gewerk het as nou. Hulle het nie geld gekry nie en vir hulle stewels moes hulle self betaal.
So word Frik aangewys as die skopper vir een van die opkomende wedstryde. Hy besef dat sy paar stewels al te gehawend is om vir so ’n belangrike werk in te staan. Hy sak af na ’n bekende sportwinkel in Pretoria en skaf ’n splinternuwe paar stewels aan (ek weet nie of dit vir hom geborg is nie – ek hoop darem so!).
Maar hoe nou gemaak? Hy kan mos nie met so ’n splinternuwe paar skoene Saterdag by die toets opdaag nie. Dit sal sy voete ses nul opfoeter.
Op daardie stadium was Frik in die lugmag. Hy tree toe daar vir hom ’n troep aan. Dis nou ’n groentjie en hulle word gewoonlik rondgejaag net omdat hulle rondgejaag kan word. Hy gee die troep opdrag om sy stewels aan te trek en te hol en hy sluit af: “As ek jou vang stilstaan, dan…”
Dis ’n kostelike storie van die ou dae en help ons om die teks beter te verstaan: 17Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.
Eintlik moet ons Jesus se stewels aantrek. In hierdie wêreld moet ons Jesus se voetspore volg en loop soos Hy geloop het toe Hy hier op aarde was. Ons moet in Jesus se spore trap en doen soos Hy gedoen het.
Maar dit is makliker gesê as gedaan.
My pa het groot spore in die wêreld getrap. Hy het regtig ’n verskil gemaak orals waar hy gegaan het. Ek het altyd gedroom om soos hy te wees, om ook sulke groot treë te gee. Tog het dit die heeltyd vir my gevoel asof sy treë net te groot is. Soos ’n klein seuntjie wat spring van die een voetspoor na die ander, só het ek gevoel wanneer die volgende spoor net te vêr was.
Tog moet ons nie mismoedig word nie. Ons kan dalk nie presies by die mense na wie ons opkyk se treë uitkom nie, want ons gee ons eie treë. Die unieke pad wat ons stap daar waar ons ons nou bevind, is presies die plek waar God ons roep om te stap. Ja, soms is die treë klein en bewerig en dalk nie heeltemal op koers nie. Moenie daaroor bekommerd wees nie! Jesus stap saam met jou.
Probeer jy net jou bes. Probeer om soos die troep Jesus se skoene aan te trek. Aan die begin gaan dit dalk seermaak. Dalk gaan jy val of dalk gaan jy in die verkeerde rigting stap en ’n afdraai of twee mis. Maar hoe meer ons tyd in Jesus se skoene deurbring, hoe meer gaan ons dit regkry, hoe meer gaan ons praat soos Hy en hoe meer gaan ons doen soos Hy.
Dankbaarheid sal uit ons begin straal en mense sal dit agterkom. Mense sal ook so wil wees. Mense sal dalk vra hoekom jy anders is. Jy sal dan sê: Dis omdat Jesus tree vir tree saam met my stap. Aan Hom wat voor stap, kom al die eer toe!
Teks
Kolossense 3:12-17
Om oor na te dink
Hoe lyk jou treë?
Waar loop jy die pad mis?
Sien mense vir Jesus in jou stap?
Gebed
Jesus, baie dankie dat U ons nie vir een oomblik alleen los nie. Dankie vir U voorbeeld van hoe ek moet lewe. Help my om elke oomblik U voorbeeld te volg. Amen.
