Uit die modder gehelp
My vrou kom gesels ernstig met my. Iemand wat naby my is, moet ek reghelp. Hy trap keer op keer oor die lyn en sy voel ek moet as vriend met hom gaan praat. Vriende moet mekaar help om tussen die lyne te loop.
Ek moet bieg dat ek dit nie so gesien het nie. Ek het vir haar gesê dat hy groot genoeg is om sy eie besluite te neem. Wie is ek dan om vir hom reg te help?
Net die volgende oggend lees ek dié vers: 16… Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg. Sjoe, dis nogal nie vir my toevallig dat ek juis nou die teks moes lees nie. Eintlik hang my mond oop om te sien hoe God my lei deur Sy Woord wat al duisende jare gelede geskryf is.
Die opdrag is duidelik en my vrou was reg. Ek moet my tjommie help. Dit is my verantwoordelikheid en as ek dit reg verstaan, ook my opdrag om die mense hier langs my te help as hulle oor die lyne trap.
Dis egter nie so maklik nie. Dadelik wonder ek – wie is ek dan nou om ander reg te help? Ek is self so vol foute. Ek trap ook so nou en dan oor lyne – wie is ek dan om ander op hulle foute te wys?
Ek vermoed dat ons wat self sukkel, die beste toegerus is om ander te help. Ons weet waar die swakste plek in ons mondering is. Ons weet waar dit die maklikste is om oor die lyn te trap. Ons weet waar ons die wagte moet aanstel sodat ons nie oorglip nie. Ons weet waar om te keer en waar om te los. Eintlik is ons die beste persoon om met ons vriende en familie ’n pad te stap om te keer dat ons nie van die pad affoeter nie.
Ek kyk na ’n aangrypende video waar ’n ouerige toeris en sy vrou in ’n rivier vol modder vasgevang is. ’n Visserman kom aangehol. Hy neem eers die man se groot en duur kamera en die vrou se rugsak en sit dit op ’n veilige plek.
Hy kom terug om die man uit te trek, maar na ’n gestoeiery besef hy dat hy te lig in die broek is om die swaar man sommerso uit te trek. Die visserman wend hom toe tot die vrou, maar kan haar ook nie uittrek nie. Toe doen hy die wonderlikste daad. Hy gaan lê agter die vrou. Die vrou gebruik sy liggaam om haarself uit die modder los te woel.
Hy doen ook so met die ou man. Met ’n gespartel en gespook kom die ou man uiteindelik uit die modder los en kruip op sy knieë na veiligheid. Die visserman het in die modder gaan lê sodat die twee toeriste uit die moeilikheid kon kom.
Die wonderlikste van alles is, toe die petalje klaar is, het hy net gegroet en oor die modder sukkel-sukkel na sy bootjie teruggekeer. Hy het nie gewag vir betaling vir die goeie daad nie. Nee, mense help mos mekaar.
En dit is presies wat Paulus hier vir ons wil leer. Ons moet mekaar uit die modder van die lewe help. Dis nie net om vir ander te wys waar hulle verkeerd doen nie, maar ons moet bereid wees om te help ook. Soms word dit van ons verwag om ons hande vuil te maak, selfs dalk ons eie lewe in gevaar te stel om vir die mense om ons te help.
Dis nie maklik nie. Tog moet ons gehoor gee hieraan. Dalk sal dit ’n vriend of twee kos. Dalk sal hulle na die tyd terugkom en jou bedank dat jy hulle uit die modder gehelp het.
Teks
Kolossense 3:12-17
Om oor na te dink
Wie van jou vriende speel soms anderkant die lyn?
Wie moet jy help?
Hoe moet jy hulle help?
Gebed
Here, dis nie maklik nie. Dit kom nie vanself dat ons ons vriende reghelp nie. Eintlik wil ons dit nie doen nie, want ons voel baie keer so onbekwaam. Eintlik is ons bang, want netnou kos dit ons vriendskap. Gee aan ons ’n sensitiwiteit om ons vriende in liefde terug op die pad te help. Amen.
