God se Woord in vandag se woorde

Van weeskind na kindwees


In Suid-Afrika is daar amper drie miljoen weeskinders. Vierhonderdduisend van hulle is in pleegsorg. Die res is êrens.  

Volgens navorsing in Amerika sal 25% van kinders in pleegsorg nie hoërskool slaag nie. Vyftig persent sal ‘n dwelmafhanklikheid ontwikkel. Sewentig persent vroue sal voor die ouderdom van 21 swanger word en slegs 3% sal ‘n graad of diploma verwerf.  

In Afrikalande gaan dit veel erger. Die kanse van kinders wat wees is, is soveel slegter. Die suksesverhale is bitter min. 

Hoe erg moet dit nie wees om nie ’n plekkie van “hoort” te hê nie? Waar gaan ’n kind dan heen as hy of sy net ’n plekkie soek waar hulle geliefd voel? Waar kan hulle met hul pakkie swaar gaan rus en weet hier gaan ek hulp kry? 

Ek vermoed dat mense wat nie weeskinders was nie, nie heeltemal kan verstaan waardeur hulle gaan nie. Ek wil sommer dadelik my kinders aantree en vir hulle mooi vertel hoe gelukkig hulle is om in ’n huis groot te word waar hulle ouers het om vir hulle te sorg. 

En dan dink ek terug aan my grootworddae. Ja, my pa is vroeg oorlede, maar ek het ’n wonderlike ma gehad wat vir die eerste keer op 50-jarige ouderdom die markplein moes aandurf om die pot aan die kook te hou.  

Dankbaarheid oorval my.  

Maar weet jy dat ons almal eintlik weeskinders was? Voordat ons gehoor gegee het aan Jesus se klop aan ons hart se deur, was ons Vaderloos. Ons het rondgeploeter in die wêreld en nie ’n plekkie van hoort gehad nie.  

Ons het nog minder ’n plek gehad waar ons vir ewig sou lewe.  

Gelukkig was daar ’n Vader wat ’n hart het vir weeskinders. Sy hart het gebreek om te sien dat hierdie hope weeskinders nie ’n plekkie van hoort het nie en nog minder ’n plek het om eendag heeltyd te lewe nie. Daarom het Hy ’n plan gemaak.  

1Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. (1983-vertaling) 

Daar is geen groter bewys van liefde as ouers hier op aarde weeskinders inneem in hul huis en hulle grootmaak asof dit hulle eie is nie. Geen geld of tyd word ontsien om aan hierdie weeskind te gee wat hul vorige ouers nie aan hulle kon gee nie. 

God se liefde vir elkeen van ons is so groot dat Hy nie anders kon as om ons Sy kinders te maak nie. Daarvoor moes Hy eers Sy eie Seun laat doodmaak het aan ‘n kruis. Ek vermoed ons verstand is te klein om die som te maak van hoe groot God se liefde vir ons is. 

Ons moet besef hoe ongelooflik gelukkig ons is om deur God gekies te word. Nee, nog meer. Ons moet besef hoe groot die daad van God was om ons status te verander van weeskind na kind van God.  

Laat ons dan hierdie status gaan uitleef in die wêreld, want hulle ken dit nie en is nog almal wees. Laat ons hulle wys hoe lyk ’n kind van God, sodat hulle ook smag om hul status as weeskinders te verander.  

Teks
1 Johannes 3:1-3 

Om oor na te dink
Kan jy jouself indink hoe ’n weeskind moet voel?
Wat beteken dit vir jou om nie meer ’n weeskind te wees nie?
Hoe kan jy jou nuwe status in jou wêreld gaan uitleef? 

Gebed
Vader, ek word oorval deur U liefde. Hoe bevoorreg is ek om kind van U genoem te word! Laat ek dit in die wêreld gaan uitleef om ander ook te help om hul status as weeskind te verruil deur deel van U familie te word. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek