God se Woord in vandag se woorde

Vir ander se verkeerde dade


Ek is ’n prentjiemens en bou graag my eie stories aanmekaar. Baie keer wil ek ’n vlieg teen die muur wees om die geboorte van iets groot te kon meemaak. Ek sou nogal graag in God se koukuskamer wou wees toe die redding van die mens beplan is. 

Dit was God se oorlopende liefde vir die mens wat alles aan die gang gesit het. God se hart het gekreun elke keer as nóg ’n mens die poorte van die hemel mis. Die liefde van God vir die hoop-lose mens het Hom na die tekenbord geneem.  

God het seker ’n hele paar opsies op die bord geteken. Diep binne Hom het Hy geweet dat daar eintlik net een plan was. Die plan het egter so baie gekos dat Hy seker net nog een idee getoets het, maar helaas, Jesus was die enigste kandidaat wat gekwalifiseer het.  

Onthou jy nog hoe die ouens in die Ou Testament ontslae geraak het van hul sondes? Hulle moes ’n dier slag. Die mees perfekte dier se bloed moes vloei as betaling vir hul sondes. Sonde of ongehoorsaamheid aan God het een straf: die dood.  

Eintlik behoort die mens met sy eie lewe vir sy sondes te betaal, maar uit genade kry hy toestemming om iets anders dood te maak as betaling vir sy sondes. Maar sodra die mens sy dier ter slagting gebring het en op pad huis toe stamp hy sy toon, moet hy eintlik net daar omdraai en weer iets gaan offer. 

Daarom is God terug na die tekenbord. En nou klink dit asof Jesus se reddingsplan eers later op die tafel gekom het, maar dit is nie so nie. Jesus se koms na die aarde was reeds voor die skepping van die aarde af op die kaarte. 

Jesus was die beste, eintlik die enigste Kandidaat om vir ewig klaar te speel met die offers vir die mens se sonde. Jesus was die perfekte Lam, omdat Hy sonder sonde was.  

18Dit het met Jesus ook gebeur. Self het Hy niks verkeerds gedoen nie, maar Hy moes vir altyd vir ander se verkeerde optrede sterf. Die Een wat niks verkeerd gedoen het nie, moes so vir al die verkeerde dinge van ander betaal. So het Hy dit egter vir ons reggekry om by God uit te kom. Sy menslike liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak. 

Vir alle mense op die aarde, die wat was, die wat is en die wat nog kom, is daar ’n kans om by God uit te kom. Jesus se bloed het dit moontlik gemaak. Hy is die weg en die waarheid en slegs deur in Hom te glo, kan ons by God uitkom.  

Jesus het geen sonde gehad nie. Hy het niks verkeerd gedoen nie. Hy was die Seun van God en daarom was Sy dood aan die kruis genoeg om ook vir my en jou sondes te betaal, sodat ons nie self daarvoor pa hoef te staan nie.  

Soos ’n lam wat geslag is om op die offertafel te bloei, het Jesus se bloed gevloei aan ’n houtkruis om finaal te betaal. Maar Jesus bly nie daar in die doderyk nie. Dis die Gees wat Hom daar kom uithaal, sodat Hy vir ewig kan lewe.  

Deur Jesus se opstanding, het God die stempel kom plaas en die dood finaal ’n nekslag toegedien. As ons nou ons sondes bely, is God getrou en regverdig om al ons sondes te vergewe. Ja, al ons sondes. Daarom sal ons vir altyd saam met Hom kan leef. 

Teks
1 Petrus 3:12-17 

Om oor na te dink
Besef jy wat Jesus vir jou gedoen het?
Het dit ’n invloed op jou manier van lewe?
Ervaar ander dit? 

Gebed
Jesus, hoe dankbaar is ek nie dat U bereid was om hierdie grootse taak te onderneem nie. Daarsonder sou ek vir seker verlore gewees het. Amen. 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek