God se Woord in vandag se woorde

10 houe op die rug


Ek lees die mooi storie êrens raak: 

Dit was die einde van die kwartaal en die klas was onhebbelik. Niemand kon met hulle uithou nie. Dit was Rassie wat die juffrou se spierwit rok vol ink gespuit het. In trane het sy na die hoof se kantoor gehardloop. 

Maar toe sy daar kom, was daar geen ink op haar klere nie, want Rassie het daai ink gebruik wat na ’n paar minute verdwyn. Ons het nooit weer die juffrou gesien nie.  

’n Nuwe onderwyser het opgedaag en hy het mooi met ons gepraat. Hy het ons goed in lyn gehou, want daar was net een reël. Die straf is 10 houe op die rug. 

Die onderwyser was net ’n dag of twee by ons, toe een van die seuns agterkom dat daar van sy kos in sy kosblik verdwyn het. Van die ander het ook gekla dat daar van hulle kos verdwyn het. 

Omdat ek die kleinste outjie in die klas was, vra die onderwyser vir my om pouse in die kas weg te kruip en wraggies, almal was skaars uit, toe kom Jan terug in die klas. Hy kyk rond of iemand hom sien en maak toe Rassie se kosblik oop. Hy vat ’n broodjie en ’n appel en sit dit in ’n papiersak. 

Jan was nog altyd ’n snaakse ou. Altyd eenkant en effe sku. Hy het nie lekker gelyk nie en altyd, al is dit warm, sy baadjie gedra.  

Meneer was duidelik ontsteld dat dit Jan was wat gesteel het. Ek dink hy het hom jammer gekry, maar reëls is reëls en meneer het vir Jan gesê hy moet sy baadjie uittrek, sodat hy sy welverdiende 10 houe kan ontvang.  

Jan het geweier en was later in trane. Meneer het hom na buite geneem. Na vyf minute is hulle terug. Meneer was ook ontsteld. Hy sê toe die rede hoekom Jan nie sy baadjie wou uittrek nie, was omdat hy nie ’n hemp aanhet nie, want hy hét nie ’n hemp nie.  

Die rede hoekom hy die kos gesteel het, was nie vir homself nie, maar omdat sy pa sy werk verloor het en daar geen kos in die huis was nie. Die kos was vir sy kleiner boetie en sussie. Hy weet dit was verkeerd om dit te vat … 

Daar het ’n stilte oor die klas gedaal. Meneer het nie lekker geweet wat om te doen nie, maar reëls is reëls. 

Rassie het sy hand opgesteek en vir meneer gevra of hy die 10 houe namens Jan kan kry? 

Meneer was duidelik uit die veld geslaan: “Die reël sê as iemand verkeerd doen, moet 10 strafhoue uitgedeel word. Dit sê nie op wie se rug dit moet wees nie.” 

Rassie het sy baadjie uitgetrek, gebuk en die 10 houe het elkeen ’n merk gelaat.  

Daardie dag was daar nie ’n droë oog in die klas nie.  

10… Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word. 

Teks
1 Johannes 4:7-21 

Om oor na te dink
Verstaan jy God se liefde vir jou?
Verstaan jy Jesus se liefdesdaad aan die kruis vir jou?
Hoe beweeg dit jou stap deur die wêreld? 

Gebed
Jesus, dankie dat U namens my gesterf het. Ek moes eintlik self sterf, maar omdat U in my plek gesterf het, kan ek na die hemel gaan. Laat ek dit gaan uitleef in die wêreld. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek