Kniel om op te kyk
Die nuwe Christene het nie in ’n maklike tyd gelewe nie. As hulle nie soos die kerk en regering geglo het nie, was hulle vervolg. Paulus het die leiers so frustreer dat hy kort-kort in die tronk gegooi is.
Dis nie maklik om te bly glo as jou lewe in gevaar is nie. Dis nie maklik om te hoor dat jou predikant waarna jy opkyk in die tronk sit vir die nuwe boodskap wat hy verkondig het en waarin jy nou glo nie. Dit maak ’n mens onseker en daarom wonder hulle seker of dit regtig die ware boodskap is.
Paulus vermoed dat die mense in Efese onseker is en moedig hulle aan: 13Ek vra God daarom dat julle nie moed sal verloor omdat ek so swaarkry ter wille van julle nie.
Hou moed, boys! por Paulus sy mense aan. Dit gaan swaar en dit lyk nie of daar uitkoms is nie. Die mense na wie ons opgekyk het, die kerk, is kop in een mus met die regering. Dit is juis hulle wat die oorsaak is dat ons lewe in gevaar is. Maar moenie in hulle vaskyk nie. Nee, kyk eerder op. Kyk na God. Ons weet dit is waar ons hulp vandaan kom.
Die woorde is ook vandag nog vir ons bedoel en Paulus wil vir ons ook moed inpraat. Daar waar dit nie maklik is om in die lewe te oorleef nie. Daar waar dit voel asof alles en almal teen ons is. Selfs die mense en organisasies waarna ons nog altyd opgekyk het blyk nou teen ons te wees. Dit voel asof alles en almal ons in die grond wil vertrap. Ons moenie toelaat dat dit ons koponderstebo laat stap nie. Nee, kyk eerder op. Kyk na God. Ons weet dit is waar ons hulp vandaan kom.
Tog is dit nie so maklik om dit reg te kry nie. Dit asof die lewe ’n mens wil dooddruk. Hoe kry Paulus dit reg om in sulke haglike omstandighede nog steeds te glo? Maar meer nog: Om ander moed in te praat en op te help! Wat is sy geheime resep? 14Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Paulus gaan raak stil voor God. Paulus kyk op. Paulus weet dat hy dit uit sy eie nie kan maak nie. Hy weet hy moet versterkings inroep, want die omstandighede waarin hy nou is, is net te groot vir homself om te hanteer.
Hoeveel keer het ek in my lewe al by so ’n plek stilgestaan, waar die omstandighede net te groot was en my verswelg het! Soms het ek probeer om uit my eie daarteen op te staan. Gou moes ek uitgeput op die grond val en besef dat dit net te groot is vir my om op my eie aan te vat. Nee, ek moes gaan stil word. Ek moes my afsonder voor God. Ek moes eers die hele pakkie voor God gaan neersit en bely dat ek nie sonder Hom die lewe kan leef nie.
Ek wonder hoekom moet swaar nou eers weer hier by my ’n draai kom maak voordat ek besef dat ek nie die lewe op my eie kan leef nie. ’n Donkie stamp sy kop net een keer, maar ek…
Kom ons leer ’n nuwe manier van leef. Kom ons leef ’n lewe op ons knieë. Kom ons vra vir God om ons te help om reg te lewe, nie net as dit swaar gaan nie, maar ook as dit goed gaan. Kom ons neem al ons besluite eers na God, sodat Hy ons kan help om die regte besluite op die regte tye te neem. Ek vermoed dat swaarkry dan veel minder aan ons deure sal kom klop.
Kniel en kyk op.
Teks:
Om oor na te dink
Waar druk dit?
Kyk jy op?
Kniel jy genoeg?
Gebed
Here, soms druk die lewe my dat my oë traan. Soms voel dit asof daar geen uitweg is nie. Ek weet ek moet opkyk na U, maar ek weet nie altyd hoe nie. Dankie dat ek nou weer kan weet dat ek voor U moet kniel. Gedurig. Amen