Al trap ons skeef, kan en moet ons ander help
Ek kry hierdie pragtige storie van ’n enkel ouer:
Hierdie mamma moes die ander dag haar kop in skaamte laat sak! Daar breek my dogtertjie haar arm en eers dink ons, ag nee wat, dit lyk nie soos ‘n gebreekte arm nie en mamma verbind hom self en vra vir Liewe Jesus om tog die ou eina arm te help om beter te voel.
Twee dae later is die arm steeds seer en geswel en ons gaan maar noodgevalle toe – daar is die arm gebreek!
Die dokter vra toe vir my dogtertjie: “Haai my kind, was dit nie eina nie – jy het Donderdag geval en dis nou al Saterdag? En wat kom by daai 9-jarige mondjie uit – “Ja dit was, maar mamma sê altyd huil is vir sissies!” Kyk, ek dog daai dokter kyk my dood!
Ek moet bieg, ek het dieselfde oorgekom met my klong wat ’n beentjie in sy hand gebreek het en nadat ek self sy hand ondersoek het, aanbeveel dat ’n pleister die ding sal doen. ’n Week later het die dokter my ook aangegluur…
Dit is eintlik die volgende gedeelte van haar e-pos wat my aangegryp het:
Maar dis nie heeltemal so waar nie. Ek as ‘n enkel mamma het die reuse verantwoordelikheid om vir haar en haar sewejarige sussie alleen voor te berei op die lewe nadat hulle pappa ‘n tou, ‘n boom en drank gekies het en toegelaat het dat allerhande donker magte hom die ewigheid ingehelp het…
Ek wonder of ons ooit die impak kan verstaan van ’n eggenoot en ’n vader wat net so deur die dood weggeneem word?
Ek wys elke oggend vir hulle die perfekte sonsopkoms en klokslag, soos ek my oë oopmaak en vir die Here vra vir iets wonderliks om vir die tweetjies te wys voor ons die huis verlaat – boom! Daar is die pragtigste sonsopkoms – elke oggend.
En word ons nie bederf met donker wolke met silwer randjies nie! Soveel om vir die tweetjies te wys en te leer nog voor ontbyt! Daarvoor is ek so ongelooflik dankbaar.
En ja, mamma leer hulle, ons vou nie, my kindertjies, ons gaan sit nie in sak en as nie. Nee, ons kyk op na Liewe Jesus waar ons krag vandaan sal kom. En as jy met jou hele hartjie smag na Liewe Jesus se genade sal Hy alles laat uitwerk. Wees sterk!
Maar elke dan en wan laat glip die ou mamma in haar swakheid “dat dit net sissies is wat vou en huil’. Watter dure les het ek nie hieruit geleer nie. Ek, as grootmens, wat die ergste van erg moes aanskou toe ek hulle pappa dood in ‘n boom aangetref het, kan dinge beter hanteer en het meer wysheid as die ou tweetjies. Ek glo in “staan sterk en moenie huil nie”, “slaan jou oë op daar waar jou krag vandaan kom”, sit ‘n “smile op jou dial en wees happy”, want dis wat die Here wil sien en as jy dit doen word jy oorspoel met genade!
Die kleintjies verstaan nie altyd lekker nie. So nou verander ek bietjie hoe ek met hulle praat, hulle mag maar huil as hulle hulle arms breek!
Ons is maar mens en foute gaan ons maak, solank ons net daaruit leer en probeer om volgende keer nie weer dieselfde fout te maak nie. Gelukkig hoef ons dit nie alleen te doen nie. God gee wysheid en help ons om deur al die krisisse te kom.
En op ’n manier verstaan ek die vers beter: 11Ons het nie een van julle sleg behandel nie. Soos ’n pa (of ma) wat mooi met sy kinders praat en hulle aanmoedig om die regte dinge te doen, het ons mooi met julle almal gepraat. Ons het by julle gepleit om God te verheerlik deur alles wat julle doen en sê.
Laat ’n mens dink, nè!
Teks
Om oor na te dink
Het jy ’n hart vir ander?
Moedig jy hulle aan om God deel te maak van hulle lewe?
Verheerlik jy God in alles?
Gebed
Vader, ek duik gereeld in die hek en doen nie wat U wil hê ek moet doen nie, maar tog wil ek reg lewe. Ek wil ander na U wys, maar soms maak ek dit nie. Neem my hand om ander te help om saam met my na U kant toe te beur. Amen.