Alles in God se hande
2 Samuel 15:25-26 Die koning sê toe vir Sadok: “Vat die ark van God terug stad toe. Miskien sal die Here vir my goed wees en my laat terugkom sodat ek die ark en die plek waar hy staan, weer sal sien. As die Here besluit Hy wil my nie meer hê nie, is dit goed so. Hy kan dan maar met my maak wat Hy wil.”
Dit is seker die moeilikste tyd waarin Dawid vassit. Sy seun het teen hom opgestaan en ʼn groot gedeelte van die volk, Dawid se volgelinge, saam met hom gevat. Jerusalem was nie meer ʼn veilige plek nie en Dawid vat sy goed en vlug.
Die priesters Sadok en Abjatar steun egter nog vir Dawid en neem die verbondsark saam. Hulle wou God se teenwoordigheid by Dawid hê. Maar Dawid doen iets heel besonders en sê vir Sadok om die ark terug te vat Jerusalem toe.
Dis nogal snaaks, want dit lyk of Dawid nie vir God by hom wil hê nie, maar eintlik is daar ʼn groot stuk wysheid in dié gebaar. Dawid wil nie die ark as ʼn gelukbringer gebruik nie. Jy sien, Dawid weet dat God se teenwoordigheid nie in die ark vasgevang is nie. Hy hoef nie die ark by hom te hê om te weet dat God daar by hom is en hom kan help nie.
Dis hier waar Dawid alles oopmaak, losmaak en in God se hande oorgee. “ As God my nie meer wil hê nie, aanvaar ek dit. Ek is in Sy hande en Hy kan met my doen wat Hy wil. Soos my vriend altyd sê: “It is what it is.”
Dis nou om alles in die hande van die Here oor te laat en Sy wil te aanvaar, maak nie saak watter kant toe die muntsuk val nie. Dawid probeer nie vir God manipuleer nie. Vir seker wil hy terug na sy troon, maar dis vir hom baie belangriker dat God se wil sal geskied as sy eie.
Dis slegs in ʼn intieme verhouding met God waar so iets kan gebeur. Die dryfveer agter ʼn mens se lewe is nie meer wat ek wil hê nie, maar eerder dat ons God sal vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Die uitkoms wat God bepaal, sal ons aanvaar en daarmee saamleef.
Dawid kon alles verloor: sy troon, sy huis, sy koninkryk en selfs sy lewe. Tog kon hy alles in God se hande sit. En dalk is dit presies wat ons ook nou moet doen: om te vertrou, alles in God se hande te plaas en te berus by Sy besluit oor ons lewe. En om alles net so in Sy hande te los, is nie so maklik nie.
Gebed
Vader, ek is bewerig, maar ek wil en kan nie anders nie. Ek sit alles in U hande en vertrou net op U wil vir die uitkoms …
Vrae
Is daar iets in my lewe wat ek nog probeer beheer in plaas daarvan om dit aan God oor te gee?
Vertrou ek God net wanneer dinge goed gaan, of ook wanneer ek nie die uitkoms verstaan nie?
Is God se wil vir my belangriker as my eie planne en drome?
Doen dit nou
Skryf die een saak neer wat jy vandag aan God wil oorgee.
Bid daaroor en sê: “Here, dit is nou in U hande. Ek vertrou U met die uitkoms.”
Elke keer wanneer jy weer daaroor bekommerd is, herinner jouself: “Dit is in God se hande.”