God se Woord in vandag se woorde

As God hoere en hul kinders kan gebruik


Daar is ’n paar groot karakters in die Ou Testament waarvan ons nie eintlik weet nie. 32Wat meer hoef ek nog te sê? Ek kan heeldag besig bly om nog sulke voorbeelde te gee. Dink maar net aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en al die ander manne wat God se boodskap moes verkondig.

Dis asof ek die eerste keer die naam van Jefta hoor en moes eers gaan oplees van waar gehaas hy. Terwyl ons in die vorige stuk gepraat het van Ragab die prostituut, is hier ook ’n konneksie met Jefta. Jefta se pa, Gilead, het ‘n bietjie rondgekuier en selfs die dienste van ’n prostituut gehuur. Jefta is uit hierdie manewales van sy pa gebore.

Gilead se vrou het ook vir hom ‘n seun gegee. Toe hulle groot was, het hulle vir Jefta weggejaag omdat sy ma ’n prostituut was. Maar toe die paw-paw die fan strike en ’n groot volk hulle wou inval, wie is die enigste ou wat hare op sy tande het en kans sien om die volk aan te val? Jefta, die seun van ’n hoer.

En so wurm Jefta homself in tussen die groot name, Gideon, Barak, Simson, Jefta en Dawid… Hoekom? 33Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het.

Met ’n sak vol geloof en die hand van God wat agter hom staan, sit hy die koning op sy plek. Nee, dis nie hy wat so sterk is nie. Dis God se toedoen. Tog moes hy glo dat God dit sal doen.

Ek vermoed Jefta moes redelik omge-ellie gewees het weens die feit dat hy eintlik as eersgeborene niks uit sy pa se goederekas kon kry nie. Inteendeel, hy is weggejaag soos ’n slegte hond. Maar dit het hom nie gekeer om gehoorsaam te wees aan God se opdrag nie.

Nog minder het hy vasgekyk in sy herkoms. Hy is eintlik uit sonde gebore. Hy is gebore uit ’n daad wat verkeerd was in God se oë. Dit laat hom nie minderwaardig voel nie. Eintlik gebruik hy hierdie “agterstand” en laat toe dat hy gevorm word om die nommer een keuse te word om ’n ander koning en sy leer aan te vat.

Ek weet ons dryf die punt die afgelope tyd redelik gereeld, maar God is goed om krom stokke te gebruik om reguit houe te slaan. Eintlik het Jefta ’n goeie rede gehad om in ’n hoekie te gaan sit en die liedjie, Nobody loves me, Everybody hates me, kliphard te sing. Tog laat hy dit nie toe nie en gryp die kans aan om eerder daardeur aangevuur te word om ’n sukses van sy lewe te maak.

So maklik gee die lewe vir ons ’n verskoning om nie by ons Godgegewe taak uit te kom nie. “Ek is te arm. Ek het nie tyd nie. Wie is ek nou dat God my wil gebruik? Ek het te veel sonde! Ek is nie veel nie …”

As God hoere en hul kinders kan gebruik, kan Hy vir jou ook gebruik. Maak net jou sak vol geloof en vertrou dat God sal doen wat Hy belowe het Hy sal. Dis altyd ’n goeie vennootskap.

Teks
Hebreërs 11:32-40

Om oor na te dink
Dink jy God wil jou gebruik?
Dink jy God kan jou gebruik?
Weet jy dat God jou sal gebruik?

Gebed
Vader, ek is nie altyd so seker of ek goed genoeg is om deur U gebruik te word nie. Tog weet ek dat U enige mens op aarde kan gebruik, maak nie saak hoe sy of haar geskiedenis lyk nie. Daarom kom sê ek nou dat ek graag vir U hier op aarde wil werk. Wys my net waar en hoe. In Jesus se Naam, amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek