God se Woord in vandag se woorde

Balans


As ek jou moet vra vir die belangrikste woord, net een woord, in jou lewe wat die grootste impak in jou lewe gehad het en nog steeds het, wat sal dit wees? Dink so ‘n bietjie daaroor.

Baie sal seker ’n geestelike woord, soos verlossing, genade, redding, Jesus of so iets gee. Ander dalk weer liefde, vreugde, vrede, geluk of so. Dalk sal daar ’n eerlike antwoord wees van geld, huis of karre.

Vir my, is daardie woord balans. As ’n mens hierdie woord op alle vlakke in jou lewe kan uitleef, sal jy baie vêr kan kom. En as jy nie die dinge in jou lewe in balans kry nie, trek ’n mens skeef en loop dit gou op ’n krisis uit.

In die verlede en ongelukkig nog steeds soms, was my tydsbesteding nie in balans nie. Ek het baie tyd by die fabriek of op die plaas spandeer. Selfs in die bediening het ek tot laat gewerk en die netto-effek was dat daar tyd van die familie gesteel is. Die tyd was nie in balans nie.

Ek sukkel nog steeds om my eetgewoontes in balans te kry en vir seker het die wanbalans ’n impak op my lyfie.

Ek sien baie mense wie se huwelike nie in balans is nie. Die een trek daai kant toe en die ander na ’n ander kant toe. Ons verskil te veel en daarom moet ons maar ons eie paaie stap. Balans, balans, balans.

En ek vermoed dat die duiwel baie van ons nie versoek om iets te steel of iets aan iemand te doen nie, maar eerder om ons aan te jaag om net so-effe aan iets te timmer, sodat dit uit balans is.

Ag, jy is so ’n goeie werker. Jy wil mos bo uitkom. Spandeer nog net ’n bietjie meer tyd. Jy sal jou beloning ontvang. Sonder aankondiging, val jou verhoudings uitmekaar, want jou tydspandering is uit balans.

Maak nog ’n bietjie meer geld. Dan kan jy lekker vakansie gaan hou en daai huis of kar koop wat jy nog altyd wou gehad het. En vir slenter na die tyd – dan kan jy ander nog meer help.

Dis alles ’n leuen.

Wanneer ons finansies nie in balans is nie, val ons gou van die pad af. Dis sulke tye wanneer die van balans af wees, ons laat dink dat geld alles is en dat dit is waar werklike vreugde is.

Dis ’n leuen.

Daarom dat ons by God se voete moet uitkom. 10 Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is.

Jy sien, dis hier by God se voete waar ons besef wat is in balans en wat nie. Mag jy moeite doen om hier uit te kom. Hier sal jy sien hoe klein ons eintlik is en sal alles om jou in balans val.

Teks
Jakobus 1:9-11

Om oor na te dink
Wat is in balans by jou?
Wat is uit balans?
Kom jy genoeg by God uit?

Gebed
Hemelse Vader, die wêreld om my maak my kop baie deurmekaar oor hoe balans nou eintlik lyk. Wys my asseblief waar ek dinge anders moet begin doen en gee my die moed daarvoor! In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek