God se Woord in vandag se woorde

Bekommernisse en Jesus se skouers


Bekommernisse vreet ’n mens op. Dit steel jou energie en laat jou pap. Wanneer bekommernisse by die voordeur instap, stap vreugde en vrede by die agterdeur uit. Ons mense is nie gemaak om bekommernisse agter ons aan te sleep nie. Maar wat moet ’n mens nou maak as die dinge nie lekker glad wil loop nie en jy het nie lekker beheer daaroor nie?

Ek onthou nog toe ek as plaasbestuurder aangestel is op ’n tweede wynplaas. Ek wou my staal wys en het baie mense genader om te help pars. Dit teen ’n baie beter prys as die vorige kontrakteur. Die Sondagaand laat weet die mense hulle gaan eerder op ’n ander plaas pars.

Die bekommernis het by my ore uitgeloop.

Ek onthou nog hoe ek ’n paar jaar daarna aan die hoof gestaan het van ’n groot fabriek en al die finansiële stres op my eie skouers moes dra. Die werkers wat tweeweekliks bakhand gestaan het vir hul lone, die krediteure wat die voordeur afgeslaan het en die debiteure wat op hulle eie besluit het om my eers nie te betaal nie, maar die ou wat harder geskree het, wel.

Die bekommernis het my regtig pap gemaak.

Wanneer ’n mens jou so oor die probleme bekommer en dit lyk of daar nie eintlik ’n oplossing om die draai is nie, help ’n teksversie nie eintlik nie. Al weet ek die Bybel sê dat ons al ons bekommernisse op Jesus moet pak, kort ek op daardie stadium eerder fondse of mense of iets prakties om die bekommerniswolk uit die lugruim te kry.

Ek het geleer dat bekommernisse eintlik deel is van die lewe en dat dit heeltyd ’n uitdaging is om dit van jou eie skouers na Jesus se skouers te skuif. Ek sukkel tot vandag toe nog daarmee.

Gelukkig is hier goeie nuus oor ons hoop bekommernisse. Een van hulle kan jy maar uit jou boekie skeur. Dit is nie meer nodig dat dit deel is van jou pakkie swaarkry nie, want Jesus het dit sommer self op Hom geneem.

Jy hoef nie bekommerd te wees oor daai verkeerde goed wat jy aangevang het nie. Jy hoef nie bekommerd te wees dat daar êrens iets op jou kop gaan val, omdat jy dit of daai aangevang het nie. Jy hoef nie bekommerd te wees dat jou ou lewe êrens vir jou gaan terugkry nie.

Jesus het klaar vir al daardie verkeerde dinge, vir die hoop sondes se straf betaal. Jy hoef nie meer êrens daarvoor pa te staan nie. Dis presies die belofte hier: 14… Die Heilige Gees het Jesus gelei om Homself aan God te offer al het Hy niks verkeerds gedoen nie. So bevry Hy ons van die bekommernis wat ons het oor al die verkeerde dinge wat ons gedoen het en waarvoor ons eintlik net die dood verdien. Nou kan ons die lewende God voluit dien.

Watter ongelooflike nuus is dit nie! En wanneer jy die vrag bekommernisse oor die pak wat jy moet vat vir jou sonde van jou skouers afhaal, begin ’n mens anders leef. Dan kan jy vir God met meer passie dien.

En ek vermoed dis in hierdie nuwe lewenstyl wat ’n mens leer om ook die hordes ander bekommernisse oor te gee …

Teks
Hebreërs 9:13-14

Om oor na te dink
Hoe dik loop jou bekommernisse?
Kan jy iets daaraan doen?
Wat het Jesus vir jou gedoen?

Gebed
Ons Vader en broer Jesus. Dankie vir die groot daad aan die kruis. Dankie dat ek nie meer die bekommernis van die straf vir my sonde hoef te dra nie. Help my om ook so te maak met ander bekommernisse en dit aan U oor te gee. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek