Beloftes, T-hemp en gedrag
As daar nie iets in die toekoms is om na uit te sien nie, waarvoor lewe ’n mens dan? As die donker wolke op die horison lê, waarvoor wil jy dan uit jou bed klim? As die son nie in die ooste sy kop lig nie, sal ons sekerlik net bly lê.
Ons mense het iets nodig om op te staan. ’n Mooi sonsopkoms trek ons baie kere vroeër uit die bed om ons te vergaap aan die skoonheid van die oggend wat breek. Of dis die voëltjies se geroep wat ons lus maak om die dag storm te loop.
Maar soms is dit nie genoeg nie. Soms druk die donker toekoms ons in ’n hoek vas en dan het ons iets meer nodig. Dan is aardse goeters te dun om ons te laat opstaan.
Dan het ons God se beloftes nodig. Wanneer ons by ’n uitdaging in ons pad gaan kom, moet ons weet dat God belowe dat Hy by ons sal wees. Wanneer ons vervaldatum opgedaag het, kan ons vashou aan die belofte dat Jesus klaar die deure van die hemel vir ons oopgestoot het en dat daar ’n lewe van geluk en vrede vir altyd vir ons voorlê.
Sonder God se beloftes vir die toekoms, sonder Sy verlossing vir ons deur Jesus Christus, is dit onmoontlik om ons voete uit die bed te trek en die dag aan te vat nie. God se beloftes maak dit vir ons moontlik om die onbekende van die dag aan te vat.
Die beloftes van God maak dat ons anders die dag wil instap. Jy sien, wanneer ons deel het aan God se beloftes, wanneer dit ons petrol is om die dag in te loop, wil ons nie meer lewe soos ons in die verlede geleef het nie.
Ons wil al hoe meer begin lewe soos ’n kind van God. Op ’n manier wil en moet ons die T-hemp, by wyse van spreke, dra van kind van God en die vuil klere van die wêreld uittrek. Ons wil en moet al hoe meer begin lewe soos Jesus vir ons gewys het toe Hy hier op aarde geleef het.
4Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is.
Ons kan nie God word of wees nie, maar die beloftes van God en die aantrek van die nuwe T-hemp, maak dit vir ons moontlik om die natuur van God na te jaag. Ons kan nou begin dink soos God en in liefde optree.
Ons kan ons lewe so leef dat ons ander liefhet soos wat ons onsself liefhet. Orals waar ons gaan, kan ons plekkies soek om ’n verskil te maak, want dis nie die eie ek wat voorop staan nie, maar die ander een se behoeftes.
Ons behoort na die wêreld te kyk deur God se oë. Dan sal ons ook bedroef raak en wonder wat kan ons doen om ons broers en susters wat afgedraai het van die regte pad, weer by die Vader uit te bring. Want Hy staan met oop arms en wag vir elkeen wat afgedwaal het om terug te kom na Hom.
God se beloftes sit ’n dik rand wat skitter om die donker wolke. Daarom wil ons elke dag opstaan. Laat ons die kind-van-God-T-hemp aantrek en laat ons gedrag in lyn wees hiermee.
Teks
2 Petrus 1:3-15
Om oor na te dink
Aan watter beloftes hou jy vas?
Waar haak jy nog in die wêreld vas?
Hoe moet jy anders in die T-hemp lewe?
Gebed
Vader, dankie vir al die beloftes in die Woord en dat dit ook in my lewe waar word. Help my dat ek die kind-van-God-T-hemp sal aantrek en dat my leefstyl daarby sal pas. Amen.