God se Woord in vandag se woorde

Bely na versoeking


2 Samuel 24:10 Na die sensus het Dawid se gewete hom begin pla. Hy het vir die Here gaan sê: “Dis ’n verkeerde ding wat ek gedoen het, Here; vergewe my asseblief dat ek so onnosel was.”

Hier aan die einde van Dawid se lewe vang hy iets aan wat nie heeltemal by hom pas nie. Hy word deur die duiwel versoek om die volk te tel. Dawid val vir die versoeking en dit neem tien maande om die volk te tel.

Die antwoord kom: Daar is 1,3 miljoen gevegsmanne. Dis ʼn groot en sterk weermag en Dawid weet dat sy vyande nie sommer sal kans sien om hom aan te val nie. Maar in plaas daarvan om sterk en magtig te voel, voel hy soos ʼn hoender.

Hier op sy oudag besef hy dat hy ʼn fout gemaak het. Nie soseer omdat hy die volk getel het nie, want daar was al voorheen tellings. Die fout wat hy gemaak het, was dat hy die telling vir sekuriteitsdoeleindes gedoen het. Hoe meer manne hy gehad het, hoe veiliger het hy gevoel.

Met grysheid kom wysheid en hy besef gou dat hy ʼn fout gemaak het. Nou hoef hy nie weer, soos met die misstap met Batseba, deur ʼn profeet oor die vingers getik word nie. Hy val sommer self in die skuld en daag by God op om verskoning te vra.

Hy is jammer dat hy sy veiligheid in die getal gevegsmanne gesoek het, in plaas daarvan om afhanklik te bly van God en te weet dat Hy hom sal verdedig en beskerm.

Ons is ook maar net mense en maak tog te gereeld foute. Ja, alles gaan so goed en ons verhouding met God is sterk, en dan, sonder dat ons dit beplan en sonder dat ons dit eers verwag, trap ons in die gat. Heel waarskynlik ʼn versoeking van die bose ou wat ons laat mistrap het.

Hopelik is ons gewete ook skerp genoeg om ons weer terug te bring op die pad van die waarheid en hopelik kan ons dan ook in ons skuld val. En hopelik sal ons die verkeerde regstel en seker maak dat ons nie weer in daardie gat trap nie.

Daarom, laat ons dan nie ons sekuriteit in getalle, geld, mense of planne soek nie, maar eerder ons veiligheid in God se hande plaas. En as ons val, mag ons vinnig genoeg luister wanneer ons gewete roep, sodat ons dadelik kan terugdraai na die God wat vergewe.

Gebed
Vader, laat ek die gate wat die bose ou in my pad druk, raaksien en keer my om daarin te trap. En wanneer ek struikel, help my om dit raak te sien, te bely en terug te draai na U …

Vrae
Waar soek jy tans jou sekuriteit? In God, of in getalle, geld, mense of planne?
Hoe skerp is jou gewete om jou dadelik terug te roep wanneer jy afdwaal?
Wat leer Dawid se selfbelydenis, sonder dat ‘n profeet hom eers uitwys, jou oor eerlikheid voor God?

Doen dit nou
Identifiseer een area waar jy jou sekuriteit in iets anders as God plaas en gee dit vandag aan Hom oor.
Luister vandag na jou gewete eerder as om dit te ignoreer.
Bely dadelik voor God as jy weet jy het iets verkeerd gedoen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek