Bersie in die donker wolk
Ek praat vroegmôre met ’n naby familielid. Ek weet sy is wakker, want sy moet gedurig bloed kry. Sy het ’n aggressiewe bloedkanker. Sy stuur later ’n stemboodskap wat vertel hoe die dokter die vorige aand bevele om haar bed uitgeskree het om haar basies aan die lewe te hou.
Sy praat van die verpleegster wat 24 uur langs haar bed sit. Sy praat van haar beskermengel. Dan oorval die emosies haar en sy kan nie verder praat nie. Sy is moeg. Haar liggaam pap getrek deur die chemo. Alles hang aan ’n draadjie.
Sy is broos en ’n mens verstaan dit.
Ek luister haar stemboodskap ’n paar maal en in die stem is daar ’n klompie nuus. Sy is moeg. Sy is seer. Sy is bekommerd oor die mense by die huis. Sy wonder oor môre. Sy het ’n hoop vraagtekens en tog is sy dankbaar vir haar beskermengel wat seker die nag haar lewe gered het.
Dit is sulke tye wat ek besef hoe vêr ons woorde te kort skiet. Ek wil troos, maar die teksvers voel weereens net te klein om ’n verskil in die groot wond te maak. Die donderwolk eenvoudig net te dig om enige lig op die horison te sien opkom.
So was baie van ons al (en is baie van ons) in so ’n wolk waar daar geen uitkoms sigbaar is nie. Jy kan omtrent nie jou hand voor jou oë sien nie, wat nog van die pad wat daar êrens is wat jou uit die krisis moet lei?
Wat sê ’n mens in so ’n situasie? Wat doen ’n mens as jy in so ’n lewensveranderende situasie sit? Alles lyk te lig in die broek om te help.
Vir my is daar dan net een plek om te gaan. Daar is eintlik net een Persoon wat werklik weet wat aangaan. Hy kan in die donker sien. Hy weet waar die uitkom-paadjie is.
Dis God.
Ons moet alles in Sy hande sit. Ons moet onsself in Sy hande sit, want dis net Hy wat rêrig weet wat aangaan en waarheen ons nou eintlik op pad is en hoe ons uit die donker wolk gaan kom.
En hier is die belofte: 16Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met sy liefde omvou.
Hoe ons familielid deur die donker wolk gaan kom, weet ek nie lekker nie. Waar sy gaan uitkom, weet ek nog minder. Wat ek wel weet, is dat God weet. Wat ek ook weet, is dat Hy vir haar en die res van die familie goed sal wees. Hy sal vir almal nog meer gee as wat hulle verdien.
Hy sal almal toevou in Sy liefdesbersie. Dit is al plek waar daar werklik rus en vrede is.
En ja, Hy is ook 24 uur aan diens by ons en vir seker ons Beskermengel.
Teks
Hebreërs 4:12-16
Om oor na te dink
Hoe dig is jou donderwolk?
Waar soek jy rigting?
Glo jy dat God saam met jou daar is?
Gebed
Ons Vader, ek het hierdie nou so nodig gehad. Ek kry swaar en is bang vir die donker. Dankie vir die belofte dat U hier saam met my is. Wys vir my die pad uit die donker. In Jesus se Naam, amen.