God se Woord in vandag se woorde

Bewoon, bewerk en bewaar


Wat dink ander mense van my? Wat dink ander mense van jou?

En dadelik hoor ek hoe mense sê dat hulle nie ’n saak het met wat ander mense van hulle dink nie. Hulle leef nie vir ander mense nie.

Dit is seker reg so. Ons moenie toelaat dat wat ander mense van ons dink ons manier van lewe bepaal nie. Dis God en God se Woord wat ons fondasie is en dit is Hy wat ons rigsnoer moet wees. Dis hoe dit behoort te wees.

Tog moet ons weet dat die manier waarop ons lewe ’n impak het op die mense rondom ons. Mense kyk dikwels na mekaar se manier van doen en aap dit na. Nie net ons kinders nie, maar ook mense in wie se lewens ons ’n impak maak, hou ons met groot oë dop. Hulle sal dikwels doen soos ons doen, want volgens hulle verstaan is dit dalk die regte manier.

Dit laat my maag nogal draai as ek besef hoe groot die verantwoordelikheid is wat ons het om die lewe reg te leef.

11Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was. 12As julle dit doen, sal ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook respek vir julle hê. Boonop sal julle dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle niemand in die oë hoef te kyk nie.

Mense sal na ons kyk en respek hê as ons die eenvoudige opdrag van God uitvoer. Reeds daar in Genesis het God die opdrag vir ons gegee: Bewoon, bewerk en bewaar die aarde. Ons het elkeen ’n opdrag om binne die riglyne op te tree. Al slaan die lewe ons ’n hou deur die maag, al is die finansiële seisoen nie lekker nie, al slaan die branders van afdanking dat ons voel ons verdrink, moet ons keer op keer opstaan en die opdrag uitvoer. Bewoon, bewerk en bewaar.

Ek vermoed ons gaan anders werk toe as ons weet dat dit juis die plek is waar God ons wil gebruik. Behalwe om net ons werk te doen, is dit ook die plek waar God ons wil gebruik. Hy wil met mense wat nie eens aan ’n kerk behoort nie, mense wat nie eens vir Hom ken nie, praat en dit deur jóú manier van werk en leef. Dis ’n groot verantwoordelikheid.

Die netto effek as jy daardie droom wat God vir jou het, uitleef daar in die markplein, daar waar die sweet van jou voorkop drup, is dat respek uitdop. Mense sál vir jou respek hê. Hulle sal na jou opkyk en ’n begeerte hê om soos jy te wees. Hulle sal wil weet hoekom jy anders is, hoekom jy te midde van die soms vreeslike moeilike omstandighede steeds voortbeur. Dan sal jy kan vertel dat jy maar net jou roeping uitleef. Dat jy net doen wat God van jou verwag.

Op ’n manier sal God juis dit gebruik om met die mense te praat wat niks van Hom wil hoor nie. Mense sal nie net vir jou respek hê nie, maar ook vir God.

Gaan bewoon, bewerk en bewaar die aarde. Gaan geniet dit. Leef die lewe met alle oorgawe en weet dat jy respek sal afdwing en dat God se Koninkryk sal blom.

Teks

1 Tessalonisense 4:9-12

Om oor na te dink

Hoe lyk jou werk?

Is dit waar God jou geroep het?

Is daar respek?

Gebed

Here, ek het dit nog nie eintlik so gesien nie. Dis nogal groot om te dink dat U deur my manier van doen met ander kan praat. Ek voel so klein en die verantwoordelikheid te groot. Maar met U aan my sy kan ek die lewe stormloop en gerespekteer word. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek