Biblioteek met ’n verskil
Baie keer word daar gedink die Bybel is een boek wat deur een skrywer geskryf is, maar dis nie so nie. Die Bybel is eintlik soos ’n biblioteek met verskillende boeke op die rak. Die boeke kan in twee hoofafdelings ingedeel word.
Die eerste, wat bestaan uit 39 boeke, is die Ou Testament en is verhale oor God se stap met Sy volk Israel. Die eerste gedeelte word die Torah of wet genoem. Die profetiese boeke vertel die storie van God en Sy volk deur die oë van die profete, amper soos ’n geskiedenisboek. Dit word aangevul deur die profete se poëtiese boeke.
Die laaste groep boeke op die Ou-Testamentiese rak in die Bybel biblioteek word geskrifte genoem en bevat poëtiese en wysheidsboeke en ook ’n paar stories of verhale boeke. Die Jode het geglo dat God deur hierdie boeke met hulle praat.
Die Nuwe Testament se rak staan vol met 27 boeke wat Jesus se storie vertel. Eers deur die vier Evangelies wat stap vir stap deur die oë van vier verskillende skrywers Jesus se wandel met Sy dissipels hier op aarde vertel.
Vervolgens word briewe deur Paulus, Petrus, Johannes, ens. aan die jong Christene geskryf om hulle te leer hoe om in die nuwe wêreld te leef. Baie van die briewe gee praktiese raad oor hoe om die daaglikse uitdagings te deurstaan.
Daar is ander boeke wat baie na aan die boeke in die Bybel se biblioteek se boeke is, maar nie in die biblioteek toegelaat is nie. Die boeke word die Apokriewe boeke genoem en wel deur sommige, soos die Rooms-Katolieke kerk aanvaar as deel van hulle Bybel.
Die boeke in die Bybel is oor ’n tydperk van meer as ’n duisend jaar geskrywe. In die vyftien honderds, tydens die reformasie, is die pen ingekap en slegs die 66 boeke, soos ons dit vandag ken, is in die Bybel se biblioteek toegelaat.
Deur al hierdie boeke oor al die jare loop daar een goue draad, dieselfde draad en dit is God se betrokkenheid by Sy mense. Nou hoe is dit moontlik dat hierdie biblioteek met die goue draadjie wat deur almal vleg, ontstaan het?
God! God is die outeur. God het deur verskillende mense gewoel en met hulle gepraat deur Sy Gees om al die woorde neer te pen. Dis die rede waarom dit die beste bestseller ooit is. As dit nie God-geïnspireerd was nie, sou die mense dit al lankal uitge-figure het en dit in die rakke gelos het om net stof op te gaar.
Dis presies wat Petrus ook sê. Op ’n manier kom hy en onderstreep net weer die outeurskap van al die boeke in die Bybel se biblioteek: 20Onthou, dit wat die profete in die Bybel sê, het hulle nie self uitgedink nie, 21want geen ware profesie kom ooit van mense af nie. Nee, die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom te praat.
Ek verstaan hoekom die ou mense so gal afgegaan het as ’n mens iets op die Bybel neersit. Dis ’n heilige boek. Dis die Woord van God. Dis die woorde van God vir ons elkeen vandag om ons te help op die paaie van die lewe. Laat ons daarom elke dag besoek aflê by die biblioteek en die boeke lees, sodat dit ons kan vorm en leer hoe ons vandag in die lewe moet leef.
Teks
2 Petrus 1:16-21
Om oor na te dink
Glo jy dat die Bybel deur God geïnspireer is?
Lees jy God se Woord genoeg?
Doen jy wat God se Woord sê?
Gebed
Vader, ja, ek glo dat die Bybel deur U geïnspireer is. Ek glo dat dit U Woord is. Help my om meer daarin te vertoef en toe te laat dat dit my lewe rig. Amen.