God se Woord in vandag se woorde

Bid vir jou tjommie op die verkeerde pad


Ons was met vakansie in die Suid-Kaap toe ek hoor van die aanval op my vriend en sy vrou – vieruur die oggend op hul plaas tussen Stellenbosch en Somerset-Wes.

Die aanvallers het deur ’n venster geklim en hulle in hul slaapkamer oorval. Hulle is met crowbars geslaan. Gelukkig kon sy vrou ontsnap en die noodknoppie druk.

My vriend is dadelik in die ICU opgeneem. Hy was nie in ’n goeie toestand nie. Eintlik het niemand geweet of hy die aanval gaan oorleef nie. Die scans het nie goeie nuus gebring nie.

Ek onthou nog hoe ek deur die dorp geloop het en net vir God gesmeek het om by hom te wees. Ek het gevra dat God die dokters se hande en voete en gedagtes sal oorneem, sodat hulle sal weet wat om volgende te doen.

Ek het my gebed die heeltyd herhaal, want ek het geweet ons het versterkings nodig.

My vriend is ’n aktiewe lid van die CBMC, en ’n klomp van sy mede-Christenmakkers het vir hom ingetree. Onder die boere is daar ook gebedsgroepe gestig. Ek wonder soms of my vriend ooit ten volle sal besef hoeveel mense het vir hom en sy vrou ingetree?

’n Bietjie meer as ’n maand later kry ek ’n oproep van Johan: “Ek bel net om te sê ek is tuis. Ek is heel oraait. Raak net nog vinnig moeg met die gestappery!” Ek sê sommer kliphard: “Prys die Here! Hierdie is ’n wonderwerk! Die Here het ons gebede gehoor en verhoor!”

Ek glo in gebed. Ek glo dat God ons hoor en dat dit vir Hom maklik is om iets daaraan te doen, veral as ons bid volgens Sy wil. God is ‘n Vader, en as Vader  kan Hy Homself amper nie keer om vir Sy kinders te gee wat hulle vra nie.

Ons as vriende het ’n verantwoordelikheid om vir mekaar te bid, veral in krisistye. Eintlik is dit ’n voorreg om vir jou mede-Christenvriende en familie in te tree.

Dit geld egter nie net in krisistye nie, maar ook wanneer hulle afdwaal van die regte pad, moet ons namens hulle by God intree.

16Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie.

Die persoon weet dalk nie eens dat hy of sy hulp nodig het nie. Hoe kan hy of sy dan nou bid daarvoor?

Dit is juis dan wat vriende die bidwerk moet doen. Bid dat hulle nie net die verkeerde pad sal raaksien nie, maar dat hulle sal omdraai en terugkeer na die lig.

Kom ons dra ons vriende wat op die verkeerde pad is, een vir een aan ons Vader opdra. So red ons dalk net ’n lewe!

Teks
1 Johannes 4:14-21

Om oor na te dink
Glo jy in gebed?
Bid jy vir jou vriende?
Vir wie moet jy nou bid?

Gebed
Vader, ek besef ek het ’n verantwoordelikheid om  vir my vriende te bid. Ek bid nou vir … Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek