Bid vir mekaar
Ek glo in gebed. As dit nie vir my ma was wat haar knieë stompies vir haar kinders gebid het nie, was ons almal van die pad af. Dis net my ma se gebede wat ons beskerm het.
Paulus glo ook daarin en daarom vra hy baie mooi vir die ander Christene van Kolossense: 3Moet asseblief ook nie vergeet om vir ons te bid nie. Vra God om vir my deure oop te maak sodat ek vir die mense van Christus kan vertel.
Ons moet vir mekaar bid, want wanneer ons vir mekaar bid, hoor God nie net ons versugtinge nie, maar ons hoor self ook hoe ons vir ander bid. Die wêreld het so verander dat baie mense maar net vir hom of haarself lewe. Gebed vir mekaar help dat ons weer op mekaar ingestel word.
Kyk waarvoor vra Paulus die mense om voor te bid. Nie iets persoonlik nie. As ek in Paulus se skoene was, vermoed ek dat ek eerstens sou vra dat hulle moet bid dat God my asseblief tog uit die tronk moet kom haal of vir beter kos of so iets. Maar nee, Paulus bid vir God se Koninkrykswerk. Paulus is nooit voor in die koor met sy gebedsversoeke nie.
Sjoe, dis soveel anders as ons gebede.
Ons moenie die middelpunt van ons gebede wees nie – ons met ons inkopielysies wat bakhand staan en vra vir ons eie behoeftes. Ja, ons mag ons behoeftes aan God bekend maak, maar dit moenie ons gebede oorheers nie. God en ander moet ons gebede oorheers.
Ons moet ook saam met ander bid vir God se Koninkryk. Daar is soveel mense wat vir God nodig het. Soveel wat swaar sleep. Soveel mense wat op pad is na die ewige vuur. Vir hulle moet ons intree. Ons moet vir God vra om met Sy Gees te woel sodat daar geleenthede is waar ons aan hulle die liefde van God kan wys.
Soms is mense so seer dat hulle nie eens kan bid nie. Soms is mense te vêr van God af of net te deurmekaar om te bid. Dit is in sulke tye wanneer vriende mekaar deurtrek en namens hulle bid en in hulle plek na God draai. God verstaan dit en God luister na die gebede van gelowiges.
Wanneer dit kom by bid vir deure wat moet oopgaan, vra ek altyd dat die Here vir my of ander moet wys watter deur ek moet oopmaak. Dis so effe anders as om te bid dat God die deure sal oopmaak. Wanneer ek bid dat God vir my sal wys watter deure ek moet oopmaak, bly dit my verantwoordelikheid om die deur oop te stoot. Soms raak ons so passief en dink dis God se werk om al die werk te doen. Ons moet die moontlike doen en die onmoontlike vir God los.
Kom ons bid vir mekaar. Laat ons bid dat God vir ons sal wys watter deure ons moet oopstoot. Laat ons saam bid om in God se Koninkryk te woel en mag ons ’n groot verskil in baie mense se lewens maak.
Teks
Kolossense 4:2-6
Om oor na te dink
Vir wie moet jy bid?
Hoe kan jy hulle help?
Wanneer moet jy hulle help?
Gebed
Vader, soms is my gebede so selfgesentreerd. Ek vergeet skoon om ook vir ander mense wat dalk swaakry, in te tree. En Vader, ek wil ook leer om te bid dat U wil hier op aarde sal geskied – in mense se harte, in hulle huise en in hulle verhoudings sodat U Naam verheerlik kan word. Amen.