Blakende gesonde geloof
Vriende kom kuier van die noorde af. Die kuier is soos die Engelsman sê, long overdue. Met Covid en ander uitdagings het ons mekaar jare laas gesien en ons is so opgewonde om ’n hele naweek saam te wees.
Dit gaan goed geil die naweek. Ons is die hele Saterdag saam in die kar om hulle ons mooi omgewing te wys. By Franschhoek stop ons vir ’n kaasbord en proe lekker wyn en sluit die dag af met ’n lekker stukkie vleis op die vuur.
Na ’n goeie ontbyt, vat hulle die pad terug. Ons vind later die dag uit dat hulle al ’n paar dae siek is.
Sondagaand hoes Renata. Ek voel glad nie sterk toe ek Maandagoggend my oë oopmaak nie. Ek ry dadelik om my te laat toets, want ek het ’n ete-afspraak die aand met ’n paartjie wat ek die Saterdag trou en ek trou ’n ander paartjie reeds die Dinsdag.
Die uitslag is positief. Covid het al weer ’n draai by ons kom maak.
Eintlik was dit nie so erg nie, net ’n ordentlike griep met al die nodige simptome in oorgawe. Ek kry alles onder beheer, behalwe my asemhaling. Dis nou al weke later en ek sal in die middel van die nag wakkerskrik en besef my asem is op.
Ek weet nie of ek ophou asemhaal en of ek net te min suurstof deur my een neusgat kry nie, maar dit maak my baie bang. Ek is so vreesbevange dat ek opstaan en eerder gaan werk, soos nou waar die klok op 01:40 staan.
Ek vrees vir die dood. Ek besef net hoe belangrik dit is dat ’n mens moet asemhaal. Sonder asem is jy dood. En as ’n mens dit hier aan jou lyf begin voel, raak jy bang en vertrou jy nie meer jou eie asemhalingsmeganismes nie.
Die liggaam het asem nodig. Dis lewensbelangrik. Daarsonder kan die liggaam nie werk nie. Dis ’n eenvoudige som en ons almal weet dit. As daar dus iets fout is, klop vrees aan die deur.
Jakobus gebruik juis hierdie voorbeeld om te verduidelik hoe geloof werk. Ek weet hy het dit nou al ’n paar keer gesê, maar dis asof hy hierdie finale kaart, wat almal baie mooi verstaan, uittrek om seker te maak elkeen verstaan presies waaroor dit gaan.
26‘n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.
Dis ’n eenvoudige som. Soos ’n liggaam wat leweloos sonder asem lê, so is ’n geloof wat nie dade het nie, morsdood.
Mag dit tog nie waar wees van jou geloof nie. Mag jou geloof springlewendig wees, omdat die dade blom. Mag mense jou geloof deur jou werke sien en mag jy orals waar jy kom ’n verskil maak, omdat jy glo.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Lewe jy?
Lewe jou geloof?
Lewe jou dade?
Gebed
Vader, ek lewe vir seker. Ek het geloof en dit lewe ook. Ja, soms is my werke min, maar ek probeer elke dag om ’n verskil te maak. In Jesus se Naam. Amen.