Blommetjies, skoenlappers en vrugte
Kom ons makeer die pas nog so bietjie by sonde. Dalk ’n onderwerp wat nie genoeg airtime kry nie, veral omdat ons almal so ‘n bietjie onder die soeklig geplaas word en die prentjie nie altyd so mooi is nie.
Versoekings wat daagliks in ons pad kom staan, het geen krag nie. Dit kan ons nie dwing om iets te dink of te doen nie. Die prentjie van die skraalgeklede persoon kan nie my vinger op die skakel laat druk nie. Dis net ek wat self ’n besluit kan neem en dan my vinger instruksie gee om oor te gaan tot aksie.
Versoekings kry slegs lewe as ons daaraan aandag gee. Wanneer ons tyd daaraan skenk, kry dit wind, tel dit spoed op en verhoog die kans dat dit in ons lewe kan kom amok saai.
As ons nie aandag skenk aan die versoeking wat so onverwags by die voordeur opdaag nie, het dit geen impak nie en kan dit niks aan ’n mens doen nie. Dis slegs ons eie keuse wat die ou lewe kan gee.
Om die woorde van die 1983-vertaling te gebruik, dis net ons wat die versoekingsblom kan bestuif, sodat dit sy vrot vrugte in ons lewe kan kom dra.
14-15 Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
Ons is die skoenlappertjie wat orals deur die wêreld gaan. Orals is daar mooi tot mooiste blommetjies. Dis regtig ’n skouspel en ons het soveel keuses om by elke blommetjie ’n draai te maak.
Die probleem is dat baie van die blommetjies se vrugte nie so watwonders is nie. Inteendeel, dit is vrot vrugte wat ons van binne af ook vrot maak. Daarom moet ons verby die mooi van die blom kyk om te weet hoe die vrugte gaan lyk.
Die netto-effek van ’n gedagte wat ons nie verjaag nie, maar wind gee, is bestuiwing. Die vrug loop soos kanker en maak net dood waar dit kom en op die ou end eindig ons juis ook daar in die doderyk.
Dis ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie in die strik van die versoeking te val nie. Ons moet seker maak dat ons nie deur die skoonheid van die blom ingeslurp word nie.
Op ons eie is ons baie kwesbaar. Ons is nie altyd opgewasse en het altyd nie die onderskeidingsvermoë om te weet by watter blom ons eerder verby moet hou nie. Die kans dat ons op ons eie ’n verkeerde blom gaan bestuif, is beter as om die regte een te bestuif.
Daarom moet ons versterkings inkry. Ons moet vir God vra om deur Sy Heilige Gees ons te help om deur al die mooie blomme te kies, sodat ons die regte vrugte kan dra.
Teks
Jakobus 1:12-18
Om oor na te dink
Hoe loop jou gedagtes?
Hoe loop jou dade?
Hoe moet jy van die verkeerde dinge ontslae raak?
Gebed
Vader, ek weet dis my keuse om my denke te bevrug. Ek wil dit nie doen nie, maar tog doen ek dit. Help my deur U Gees om reg te doen en nie onnodige energie te spandeer aan die versoekings nie. In Jesus se Naam. Amen.