Bly net glo
Soms wonder ek of God en Jesus regtig is. Ja, soms pak die twyfel my en dan wonder ek. Dan dink ek so by myself en sê dat my pa en al die ander groot teologiese omies sekerlik nie die pot sou misgesit het nie.
Ek kry dan die ouens wat nie glo nie so jammer. Hulle gaan eendag so ’n groot verrassing by die poorte kry en dan gaan dit heeltemal te laat wees.
Petrus het agtergekom dat sommige van die mense vir wie hy sy briewe skryf ook aan die twyfel raak. Hulle het ’n ander wêreld verwag as Jesus kom en nou lyk alles nog net dieselfde. Nou vra hulle vrae oor Jesus.
Daarom herroep Petrus een groot gebeurtenis uit sy verlede om die leser te help om die twyfel weg te jaag en plek te maak vir geloof. Petrus vertel van die keer toe hy en sy twee vriende saam met Jesus teen berg Hermon op is.
Dit was ’n paar dae voor Jesus gevange geneem sou word en hy wou gaan bid het. ’n Mens kan dit verstaan, want die pad wat Jesus moes loop was geensins maklik nie en Hy wou met Sy Vader daaroor gaan praat.
In hierdie erg moeilike uur, neem Jesus Sy drie beste vriende saam. Petrus en die twee broers Jakobus en Johannes. Interessant dat al drie op die ou end skrywers van die Bybel geword het.
Toe hulle bo teen die berg kom, is dit asof God al die stoppe trek. Twee groot kanonne uit die verlede maak ook hulle opwagting. Hulle het toe met Jesus begin praat oor Sy taak wat voorlê.
Moses moes daar wees, want sy profesie oor Jesus sou binnekort waar word en die wette wat hy van die berg gebring het, sou nou in ’n heel ander lig gebring word. Elia was vir seker die toonbeeld van die voorganger van die Verlosser.
Petrus neem sy lesers weer terug na die wonderlike moment in sy lewe: 17Onthou julle toe Christus op die berg saam met Moses en Elia was? God het vir Christus daar met groot eer en heerlikheid bekroon. Die Allerhoogste het uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Ek is baie bly oor Hom.” 18Op daardie heilige berg het ek met my eie ore God se stem gehoor.
Sjoe, watter groot lewensveranderde moment moes dit nie in die manne se lewens gewees het nie? Dit wat Jesus vir hulle geleer het, die nuwe nuus wat Hy kom vertel het oor God is hier vir altyd in sy wese en geheue gegraveer.
En tog nog ’n week later, toe Jesus aan die kruis sterf, verloor Petrus sy geloof. Vrees en emosies, verslaentheid en drome wat aan skerwe lê, onsekerheid oor “Wat nou?” laat twyfel inkruip.
Dis menslik dat ons soms twyfel. Maar dit is sulke tye wanneer ons weer God se Woord moet lees. Dis sulke tye wat ons moet rustig raak en toelaat dat die Heilige Gees die twyfel in ons verjaag, sodat ons weer kan glo in ’n magtige God wat so lief is vir Sy kinders dat Hy bereid was om Sy seun te laat sterf aan ‘n kruis, sodat ek en jy nie vir ons sondes hoef te betaal nie! Ek glo vir seker in God!
Teks
2 Petrus 1:16-21
Om oor na te dink
Twyfel jy soms?
Hoe kry jy jou geloof weer terug?
Hoe versterk jy jou geloof?
Gebed
Vader, vergewe my dat ek soms val en twyfel. Help my op, want ek glo in U! Amen.