Breakdowns, breakthroughs en seisoene
So deur die jare tel ’n mens wysheid langs die pad op. Baie daarvan is as jy op die swaarkry-pad loop. Ek het geleer dat baie dinge deur seisoene gaan. In die besigheid was daar goeie seisoene, maar wat baie keer gevolg is deur seisoene toe dit swaar getrek het.
In verhoudings is daar seisoene wanneer alles net so lekker loop en dan seisoene wanneer alles haak. Selfs in ons huwelike. Ek wonder baie keer hoekom die goeie seisoen nie net aan en aan kan hou nie, maar as ek weer sien, dreig die donder wolke orals om ons rond.
Selfs in ons finansies kan die seisoene gou swaar draai en dan verlang ’n mens woes na die seisoene waar daar altyd ’n geldjie was vir iets lekkers. En natuurlik in ons gesondheid kom klop ’n nuwe seisoen sommerso onaangekondig aan die deur as ons in die spreekkamer sit.
Gelukkig het ek geleer dat seisoene nie net ’n begin het nie, maar ook ’n einde. Die swaarkry waardeur ons nou moet trek, se einde word aangekondig met die begin van ’n nuwe seisoen.
En wanneer ek dan so terugkyk oor die seisoen en sien dat ek aan die einde van die seisoen op ’n ander plek staan as waar ek die seisoen ingeloop het, besef ek die volgende: Sometimes you need a breakdown to get a breakthrough. Soms is ons so vasgeval in iets wat ons terughou dat ons ’n bietjie van ’n skudding nodig het om daaruit te kom.
Filemon het heel waarskynlik ’n breakdown gehad toe Onesimus gedros het. Ek kan net sien hoe hy sy speelgoed uit die kot gegooi het. Hy het heel waarskynlik na God gedraai en kwaad gevra wat hy nou gedoen het om dit te verdien. Hy was dan so goed vir die slaaf en het alles vir hom gedoen en blah-blah en met ‘n gemor het hy aangegaan, soos ons gewoonlik maak as die swaarkry ons tref.
15Dit is eintlik goed dat jy Onesimus so ’n rukkie lank verloor het. Nou kry jy hom vir altyd terug. En gelukkig ook op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het.
Filemon het egter nie besef dat dit net ’n seisoen is waarin hy en sy slaaf is nie. Hy het nog minder besef dat wanneer die seisoen klaarmaak, daar ’n nuwe een begin. ’n Veel beter een. Hy kry ’n slaaf terug wat vry is van die verkeerde dade van die verlede. Maar hy kry nog meer terug. Hy kry ’n broer in Jesus terug. Hy kry ’n vriend wat vir hom alles sal doen.
Dis waarin God goed is. Hy ken van slegte dinge omdraai in goeies. Hy ken van breakdowns om breakthroughs te kry. Hy weet ook hoe om slegte seisoene te laat eindig, sodat die goeies weer kan afskop.
Sit jy dalk nou in so ’n seisoen? Is jy nou vol tot bo van die swaar? Is jy nou al moeg vir die breakdown waarin jy vasgevang is? Miskien moet jy vir God vra om die seisoen nou te laat stop en die breakthrough op die horison te laat verskyn.
Dalk het jy dit al baie gevra, maar vra weer.
Wees eerlik en sê jou sê en bring al jou versugtinge voor God. Bly hoop en bly vertrou.
Teks
Filemon 1:15-20
Om oor na te dink
Waar trek jy swaar?
Hoe kan God help?
Bid jy vir Hom om ’n deurbraak te bring?
Gebed
Vader, my omstandighede is so moeilik en dit voel of dit nooit gaan eindig nie. Ek sukkel om te sien hoe daar vir my ‘n deurbraak moontlik is. Dankie dat dit is waarin U goed is. U draai moeilike omstandighede om in ‘n seën en maak die onmoontlike moontlik. Doen dit ook vir my asseblief! In Jesus se Naam, amen.