God se Woord in vandag se woorde

Cheer ander in die wedloop aan


Dis Vadersdag en ek is weer vroeg wakker. Ek gly sommerso deur my Facebook en sien ’n wonderlike post van ’n vriendin waar sy ’n ode aan haar pa bring. Ek haal ’n paar van die twintig punte aan:

My Pa wat elke ete (drie maal op ’n dag) met ’n handevat en tafelgebed begin!

My Pa wat 10 oor 7 elke oggend Bybel gelees het! En almal moes aangetrek om die tafel gesit het!

My Pa wat trots is op ons voorgeslagte en my geleer het van watter stoffasie ek gemaak is – wenners van formaat! Met my God spring ek oor ’n muur!

My Pa wat my ma lewenslank liefhet! En vir my laat glo in ’n lewenslange verbintenis tussen man en vrou.

My Pa wat, wanneer hy groot besluite in sy lewe moes neem, hom tot sy God gedraai het en wagtend vir raad en leiding, rustig gebly het tot hy doodseker was hy maak die regte keuse en dan kyk hy nie terug nie.

My Pa wat my met liefde en regverdigheid grootgemaak het!

My Pa wat nou nog die hoof van die tafel is, wanneer ons as gesin van 17 aansit vir ete! En met sy lag en lawaai steeds die septer swaai!

My Pa wat nou altyd deel is van my en Ma se urelange gesprekke, ten minste twee maal per week oor die foon.

My Pa, vir wie ek oneindig lief is, op wie ek geweldig trots is en wat my identiteit vir my help skep het!

Vandag eer ek my Pa!

Sjoe, dankie Oom Thys vir die voorbeeld. Hy is besig om sy wedloop hier op aarde met groot sukses te voltooi.

Ons almal is besig met ’n geestelike wedloop, ’n wedloop wat ons gaan klaarmaak, die dag as ons ons laaste asem uitblaas. Gelukkig is ons nie alleen nie. Op die pawiljoen sit daar mense wat ons aanmoedig en vir ons cheer. Hulle is die mense wat reeds die wedloop voltooi het, soos die groot karakters van die Ou Testament. Deur hulle stories te lees, kan ons agterkom hoe ons ons wedloop moet aanpak.

Dan is daar mense wat nog saam met ons hol. By hulle kan ons ook leer, soos by Oom Thys. Laat ons dan om ons kyk en leer by die wat al lank aan die hol is. Laat ons soos hulle doen en seker maak dat ons ons wedloop suksesvol sal aflê.

Dan kan ons dalk ook weer vir ander wat saam met ons hol, help en hulle aan cheer om ook die wedloop van die lewe suksesvol af te lê. Soos Hebreërs 12:1 sê: Die lewe is soos ’n wedloop. Op die pawiljoen het ons ’n skare mense wat voor ons met geloof en vertroue in God geleef het. Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop.

Teks
Hebreërs 12:1-3

Om oor na te dink
Hoe gaan dit met jou wedloop?
Hoe sien ander wat saam met jou hol jou?
Moet jy ‘n paar dinge anders doen om ander in die wedloop te help?

Gebed
Here, dankie dat ek nie alleen is in hierdie wedloop nie! Dankie vir al die mense wat oor al die jare vir my ‘n voorbeeld was, my aangemoedig het en gehelp het om my karakter te bou. Help my om ook die mense om my aan te moedig. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek