God se Woord in vandag se woorde

Christenskap is ’n werkwoord


Taalkundig is Christen eintlik ’n selfstandige naamwoord, want dit dui die naam van ’n spesifieke groep aan. Ek wil eintlik sê dis ’n werkwoord, want om ’n Christen, ’n ware Christen te wees, veronderstel werk. 

Miskien moet ons net eers hier die pas markeer. Gou sal mense op en af spring as ’n mens oor werke begin praat. Dadelik sal hulle sê dat werke ’n mens nie in die hemel bring nie. Dit is so.  

Die hekke van die hemel staan oop vir almal wat Jesus aangeneem het as hul Verlosser, nie oor dit wat hulle gedoen of nie gedoen het nie, maar alleen omdat Jesus vir ons elkeen se sondes gesterf het.  

Dit is genade alleen. 

Wanneer ’n mens egter besef wat Jesus vir ’n mens gedoen het; as ’n mens besef dat Jesus vir ons uit die hel kom haal het deur in ons plek te sterf vir ons sondes, kan ’n mens mos nie ongeroer staan nie.  

Christenskap veronderstel ’n werkwoord. Christenskap mobiliseer jou om te doen. As Christenskap nie oorloop in dade nie, dop vrae orals uit. Dan wonder mens oor die egtheid van die geloof. 

Christene moet ongemaklik raak as hulle in die gemakstoele van die lewe vassit. Kinders van God se voete moet jeuk en hulle hande moet gereed staan om iets te doen en ’n verskil in ander mense se lewens te maak.  

Sommige woorde pas vir my nie langs mekaar nie. Omdat ek nie ’n natuurlike atleet is nie, pas fun run nie vir my langs mekaar nie. Onvrugbare Christen pas ook nie. ’n Christen moet altyd vrug dra. Dit is ononderhandelbaar. 

Daarom moet ons met alles in ons bewustelik doen wat reg is en die verkeerde eers verbyloop. Ons moet die Boek van die lewe bestudeer, sodat ons meer wysheid kan hê. 

As die winde van die lewe ons klap, moet ons in beheer bly en sterk staan. Meer en meer moet ons God se vrugte dra en gaan uitdeel aan ons medegelowiges en veral aan al die ander mense in ons wêreld.  

Wanneer ons meer en meer toelaat dat ons hierin groei, as ons Christenskap ’n werkwoord word, word die impak in ons eie lewe en ook in ander mense se lewens raakgesien. So word Jesus se karakter sigbaar in ‘n donker wêreld en leer ons Hom ook beter ken.  

Hier is die belofte vir jou uit God se Woord uit: 8Julle moet aanhou om te groei in hierdie geestelike dissiplines. As dit in oorvloed aanwesig is in julle lewe, sal julle kennis van ons Here, Jesus Christus, nooit ’n mors van tyd wees nie. Dan sal julle lewe ook nie vrugteloos wees nie. (Die Nuwe Nuwe Testament) 

Dalk is dit ’n goeie tyd om op ’n klip te gaan sit en na die effek van jou Christenskap op die wêreld om jou te gaan kyk. Is dit ’n mors van tyd of lê jou vrugte orals gesaai? 

Teks
2 Petrus 1:3-15  

Om oor na te dink
Waar maak jy ’n verskil?
Waar kan jy nog ’n verskil gaan maak?
Groei jou verhouding met Jesus aktief? 

Gebed
Vader, mag my verhouding met Jesus nooit ’n mors van tyd wees nie. Mag ek nooit verby ’n geleentheid stap om my geloof in aksie oor te sit nie. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek