Connie praat en doen
17… En mag God julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen.
Connie is vir my ’n groot voorbeeld in wat ’n mens sê en doen:
Ek probeer regtig om vir God hier by die werk te getuig. Net soos ek is, met al my swakheid, maar gelei deur Sy wonderlike Heiligste Gees wat in my woon en werk.
As ons die eerste tree vat om vir mense van God se grootheid en goedheid te vertel, en dis in lyn met God se tyd, maak die hemele oop en God doen Sy werk deur ons!
Ek het die eerste stap geneem en die 22 swart mense en twee wittes wat saam met my werk in ‘n groep om verskoning gevra vir die seer en foute van ons verlede. Dat ek jammer is oor al die seer en swaarkry wat hulle en hulle voorgeslagte aangedoen is.
Ons moet onthou wat verby is, is verby en daaraan kan ons niks doen nie, maar ons kan vandag begin om saam daaraan te werk om die lewe ’n beter plek vir ons, ons kinders en hulle kinders te maak. Ons kan dit doen deur mekaar te vergewe in Jesus se magtige heilige naam. In ons eie huise kan ons begin om anders te leef en te dink.
Ons kan dit slegs deur die groot genade van Jesus Christus doen, want Hy, en Hy alleen, is God en Here van liefde en vrede.
Toe ek wil omdraai en wegstap, begin hulle vir my hande klap en baie dankie te sê vir wat ek vandag gedoen en gesê het. Net daar vra hulle of ons almal saam ’n groot kring kan maak, mekaar vashou en saam bid.
WOW! WOW! WOW! Kan jy dit glo? Ek was stom van verbasing oor hoe God intree as ons vir Hom optree.
Van daar af maak ons nou elke oggend ons kring. Ons nooi die Heilige Gees van Jesus in as ons eregas. Ons bid vir mekaar, vir ons werksplek, vir ons dorp, land, regering, Jesus se kerk en bruid, ens. En ons verkondig in Sy naam dat Hy en Hy alleen God en Here is.
Daarom getuig ek vanoggend dat as ons die eerste stap vir Jesus neem (wat ons nogal partykeer ongemaklik kan laat voel, omdat ons nie weet hoe die ander se gesindheid gaan wees nie) Hy al die asemrowende wonderwerke laat gebeur.
Ek bid elke oggend en aand vir hierdie mense van my dat hulle sal vashou aan die ewige hoop en ’n groter en dieper honger en dors vir Hom en Sy woord sal hê.
Sjoe, watter mooi voorbeeld van God se Gees wat werk, omdat een persoon die regte dinge sê en doen.
Ek hoop daar kan eendag sulke stories van my geskryf word. Ek bid dat daar eendag sulke stories ook van jou vertel sal word. Daarom bid ek weer: 17… mag God julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk die woorde wat by jou mond uitkom?
Hoe lyk jou dade?
Moet jy vir God hulp vra?
Gebed
Here, ek wil ook graag die vrymoedigheid hê om oor U en U wil met ander te gesels. Laat U liefde my dring om U koninkryk in my huis en by my werksplek te bring. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.