Dade trek vêr
Ek sê gedurig dat ons nie noodwendig met woorde mense moet vertel van die Here nie, maar veral met ons dade. Die spreekwoord sê mos: woorde wek, maar voorbeelde trek.
’n Mens stap makliker agter ander se dade aan as wat ons hul woorde volg. En nog minder help dit as iemand sê moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê. Dit maak mense en veral kinders net woes deurmekaar.
Ek kuier saam met vriende by hul vriende. Ons kuier baie lekker en ons geniet die mense se geselskap. Later vind ek uit dat die een paar nie gelowig is nie. Hulle was in die kerk, maar is so seergemaak dat hulle glad nie meer glo nie.
Om met die mense in gesprek te gaan en hulle te probeer oorreed om hul besluit om nie meer te glo nie, te heroorweeg, sal heel waarskynlik nie werk nie. Die seer dade aan hulle het te hard gepraat en verwoesting gesaai.
Ek het die volgende oggend in my bed gelê en gewonder of my dade gehelp het om die mense te laat wonder oor hulle besluit. Of het my dade hulle rustig laat slaap oor hul besluit om hul geloof in God vaarwel te roep?
Die Woord van God moedig vrouens wat nie gelowige mans het nie, aan om hul geloof prakties en te alle tye uit te leef. 1… Die manier waarop julle in die gesin leef, is belangrik. As daar byvoorbeeld ’n man is wat nie na die Woord van God wil luister nie, 2moet die manier waarop jy as vrou leef, hom oortuig dat dit waarin jy glo, die waarheid is. Jou lewe praat baie harder as jou woorde. Dit is eintlik nie eens nodig om baie met jou man oor God te praat as jy leef soos Hy wil hê nie. So sal jy vir jou man wys hoe wonderlik God is.
Hierdie geld natuurlik vir mans wie se vrouens ook nie gelowig is nie.
So trou ek ’n jong man wat ongelooflik lief is vir sy nuwe vroutjie. Hulle pas soos ’n handskoen. Sy ouers is gelowig, maar ongelukkig kom die vroutjie uit ’n ouerhuis waar daar geen geloof in God was nie.
In ons gesprekke voor die huwelik het ons keer op keer by geloof ’n draai gemaak, maar omdat die vroutjie geen blootstelling daaraan in haar ouerhuis gehad het nie, kon sy nie saampraat of selfs vrae vra nie.
Ek het baie mooi vir haar eggenoot verduidelik watter reuse taak hy het om as gelowige man vir haar te wys wat Jesus se liefde werklik beteken. Deur sy dade moes sy vroutjie dit aan haar lyf voel.
Natuurlik geld dit nie net in die huwelik nie, maar in alle verhoudings. Daar by die werk moet mense kan sien en ervaar ons is anders. Hulle moet deur ons dade kan ervaar wat dit beteken om ’n gelowige in God te wees.
God se wonder moet deur ons dade sigbaar word in die wêreld. Woorde raas deesdae in mense se koppe, want daar is soveel strooi stories. Woorde wek en verdwyn in die donker, sonder dat dit enige impak maak. Maar dade strek, dit maak ’n impak en kan met die werk van die Heilige Gees mense se oë oopmaak en lewens verander.
Teks
1 Petrus 3:1-7
Om oor na te dink
Hoe lyk jou woorde?
Hoe lyk jou dade?
Sien mens die wonder van God in jou dade raak?
Gebed
Vader, ek weet dat my dade nie altyd reg is nie. Vergewe my asseblief en help my om ander van U te vertel met my dade. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.