God se Woord in vandag se woorde

Dade wat jou geloof uitskree


Deur te kyk na die klere wat mense dra, kan jy gou bepaal watter werk die persoon doen. ’n Man met two tone klere aan, is heel waarskynlik ’n boer. Iemand met ’n wit jas, ’n dokter. Iemand met ’n geoliede oorpak, ’n mechanic.  

Sonder dat hulle ’n woord spreek, kry ’n mens ’n goeie idee watter werk hulle doen. Net so kan mense se dade ook verklap wie hulle binne hulle is. Sodra ’n mens iets begin doen, stoot jy die deur van jou hart oop vir almal om te sien hoe dit daar binne lyk. 

Ek het al gesien hoe boos mense in ’n winkel raak net omdat die produk wat hulle soek nie in voorraad is nie. Dan gooi hulle sommer hul halfvol mandjie net daar neer en storm uit die winkel uit. Almal staan verbaas deur die persoon se deurmekaar optrede. 

Almal sien die persoon se hart raak en skud hulle kop. Dalk het daar iets in die persoon se lewe gebeur voor sy of hy die winkel ingestap het, maar die optrede nou is nie hoe jy met jou medemens werk nie.  

So vertel ons dade natuurlik ook die storie waarin ons glo. As mense oor ander mense loop, as mense ander mense nie ’n kans gun nie, wonder jy of daardie persoon ’n kind van God is. So ’n persoon kan nie lekker spel nie, want … 

4As iemand beweer: “Ek ken Hom baie goed,” maar nie doen wat Jesus vra nie, is hy of sy natuurlik ’n leuenaar. So iemand kan nie eens “waarheid” spel nie. 

Ek weet ons is nog onder konstruksie. Die dag toe ons vir Jesus as ons Verlosser aangeneem het, het ons nie ewe skielik net presies begin lewe soos wat God se wil vir ons is nie.  

Tog moet ons ons bes doen om te lewe soos Jesus vir ons gewys het om te lewe. Ons moet moeite maak om, wanneer die dinge nie loop soos ons wil hê dit moet loop nie, nog steeds Sy beeld te weerkaats. 

Indien ons dit nie doen nie, is ons leuenaars en kan ons nie eers die woord waarheid spel nie.  

Giepie stuur vir my hierdie spreekwoord: “Wat jy doen, praat so hard, ek kan nie hoor wat jy sê nie”. En is dit nie waar nie? Jou dade maak mense se ore doof vir dit wat by jou mond uitkom. 

Daarom moet ons elke dag met elke optrede seker maak dat die boodskap van ons dade nie ’n streep trek deur ons geloof nie. Laat ons dade nog minder ’n storie vertel wat ons tot ’n leuenaar maak. 

Laat ons dade eerder ’n storie vertel van ’n begenadigde persoon wat eintlik op pad was na sy ewige dood, maar dank die Vader, langs die pad hom of haar in Jesus vasgeloop het. En nou juis op die pad na die Ewige Lewe is.  

Mag ander vir Jesus raaksien deur my dade vandag en mag ek só die waarheid uitleef. So help my, Vader. 

Teks
1 Johannes 2:3-9 

Om oor na te dink
Watter woorde skree jou dade?
Kry jy altyd reg dat Jesus se Naam deur jou dade geskree word?
Of moet jy êrens eerder ’n paar ander maniere uitleef? 

Gebed
Vader, help my om vandag nie veel te sê nie, maar net deur my dade te praat. My dade wat U eer. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek