Dade wat mooi loop
Ek stap stalletjie vir stalletjie deur by Nampo in Bredasdorp. Dis vir my so lekker om te sien watter nuwe produkte daar is om die boerdery vir die boere makliker te maak. Ek staan lank en gesels met die bekendes. As boerdery lank gelede in jou are was, loop dit nooit weer uit nie.
As ek moeg is, gaan sit ek eenkant en hou die mense dop. Sonder dat mense besef, vertel die manier van hulle doen, ook daar op die skou, presies van waar hulle kom en waarvan hulle aanmekaargesit is.
Daar is jong manne wat netjies is en mooi praat. As iemand hulle groet, haal hulle die keps af, glimlag breed en gee ’n stewige handdruk. Jy kan sommer sien die manne se ouers het hulle goed grootgemaak.
Dan is daar weer ander wat niks omgee nie. Hulle mors met hulle monde en as hulle iemand uit die weg stamp, vra hulle nie eers om verskoning nie. Later, as hulle met ’n glas in die hand staan, skuif ek na ’n ander plek, want dis nie lekker om die petalje dop te hou nie. ’n Mens word skoon ontsteld.
’n Mens se dade vertel ’n storie van wie jy is. Dit trek ’n lyn na jou mond en na jou hart. Dit vertel so ’n stukkie van jou agtergrond en jou stoffasie. Dit skuif die gordyn oop en ’n mens kan loer waar jou geloof lê.
Kan mense sien dat jy ’n kind van God is? Vertel jou dade die regte storie of maak jou dade mense deurmekaar, omdat dit wat jy sê en wat jy doen, nie dieselfde boodskap uitdra nie?
Ja, daar was ’n tyd toe ons dade heel verkeerd was. 3Ek praat nou van daardie tyd toe julle alle ordentlikheid en reëls oorboord gegooi en net gedoen het waarvoor julle lus was. Julle het julle papdronk gedrink en wilde sekspartytjies gehou. Wat ’n afskuwelike, afgodiese lewe is dit nie!
Ons almal was dalk nie so erg nie, net so effe van die pad af. Ek ken wel ’n paar vriende wat eers vierkantig in hierdie kategorie gepas het. Gelukkig het hulle tot inkeer gekom en opgehou mors. Hulle lewe vandag heel mooi en hulle help selfs ander om van die rowwe paaie af te klim.
Dalk sê jy dankie tog dat jy nooit so woes van die pad af was nie, maar die vraag bly staan of ander mense uit jou manier van lewe kan sien dat jou lewe deur die Heilige Gees beheer word?
Wanneer dit nie gaan soos dit moet gaan by die besigheid of werk nie, hoe praat jy mense aan? As iemand voor jou indruk in die verkeer, waar loop die gekookte bloed uit? As jy nie jou sin kry nie, waar trek jou speelgoed? Of as jy tussen jou pêlle is, gaan jy maar saam met die vloei?
Kom ons maak seker dat ons gedrag in lyn is met wat ons glo. Laat ons seker maak dat die boustene van ons geloof sigbaar raak in al ons dade, veral as die dinge nie loop soos ons wil hê dit moet loop nie. Mag ander soos ons wil wees, omdat ons dade altyd ons geloof se sagte woorde verkondig.
Teks
1 Petrus 4:1-6
Om oor na te dink
Sien ander jou geloof deur jou dade?
Waar loop jou dade nog in die verkeerde rigting?
Hoe kan jy keer dat jou dade nie verkeerd loop nie?
Gebed
Vader, ek wil so graag in alle omstandighede reg optree en praat, maar soms duik ek in die hek. Help my om te alle tye te doen soos U wil. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.