Dankbaar vir my hose pipe
Paulus praat in die hele hoofstuk 9 om die mense van Korinte te leer hoe om te gee. Hy gee goeie raad soos: 5… Dink asseblief eers goed oor die saak na en maak julle bydraes op die regte manier bymekaar. Onthou, dit moet regtig ’n dankoffer wees, nie iets wat van julle afgepers is nie. of soos 7Gaan besluit nou self hoeveel julle wil gee. Moenie ’n klomp geld gee en dan na die tyd daaroor spyt kry nie. Moet ook nie verplig voel om iets te gee nie. Onthou wat die Bybel sê: God is lief vir mense wat hulle geld met blydskap weggee. En soos die: 11Wat ek bedoel, is dat God sal sorg dat al die goeie dinge wat julle doen ’n reuse-oes oplewer. So sal julle en ander mense selfs nog meer van die Here se goedheid in julle lewe beleef.
Maar in plaas daarvan dat ek meer hieroor wil sê, deel ek graag met toestemming die storie wat ek via e-pos gekry het, met jou. Dalk maak dit meer sin:
Ek kom Maandagaand van die klas af – stokflou en taai van die hitte en kyk my windverwaaide tuin so. Droog en vaal van die wind. Nes ek!
Ek gryp die tuinslang en maak die hek oop. Die plante op die sypaadjie moet dringend water kry. Dis die plante wat die meeste afgeskeep word. Soos my wasgoed en my Bybelstudie en my beenhare! ’n Mens kan nog tuin natspuit in jou skeefgewaste pajamas ágter die straatmuur, maar vóór die muur moet jy lipstick aanhê en rêrige klere dra.
Ek geniet die natspuitery van die sypaadjieplante en gesels nog aan die een kant oor die pad met ou Henry ook.
Skielik hoor ek: “Naaaand Mevrou!”
Dis Theresa. Theresa is ’n hawelose vrou wat snags onder die brug slaap. Haar ‘huis’ word gereeld opgebreek en verwyder, maar dan skrop sy maar weer nes onder die brug.
Ek vra hoe gaan dit en sy sê sy’s moeg, want sy het nou net klaar huis gemaak. Sy moet nou nog net iets te ete kry.
By haar is ’n opgeskote seun – so 14 jaar oud.
“Mevrou, dis nou my seun – ek het net die enetjie. Sy naam is Liandene.”
Ek het my al dikwels verstom aan die name wat die hawelose mense uitdink vir hulle kinders. Hulle het seker baie tyd in hulle hopelose, troostelose bestaan en glo ek, hulle hoop seker elke keer dat hierdie kind met die grand naam hulle mini-messias gaan wees wat hulle uit die ellende gaan oplig en wegvoer na die beloofde land.
“Naand Liandene,” sê ek vriendelik. Hy is skugter en groet saggies.
“Gaan jy skool, Liandene?” vra ek.
“Ja, Mevrou, in Cravenby.”
Ek kyk die kind en wonder of sy onderwyser weet dat hy onder die brug slaap, dat hy agtuur in die aand nog nie geëet het nie, dat hy en sy ma met ’n Pick en Pay sak rondloop en papiere en gemors optel terwyl hulle kos soek. Weet die onderwyser dat die kind nie ’n bed en ’n tafel en ’n stoel het nie? Weet hy dat die kind en sy ma uit die vuilgoeddromme eet? Weet die onderwyser dat dit sekerlik die ma se laaste winter gaan wees?
Ek ken Theresa al baie lank. Dis eintlik Stella se skuld dat ek met Theresa opgeskeep sit, want sy het vir Theresa belowe dat sy altyd by ons iets te ete sal kry. Nou sit ek met Theresa!
Déjà vu! Nes Lyla! Story of my life!
Elke winter dink ek Theresa gaan dit nie maak nie. Haar longe is gedaan en sy’s so dun soos ’n kriek.
Ons gesels ’n bietjie en om haar die verleentheid te spaar sê ek sy moet solank die tuinslang vashou en water spuit terwyl ek ietsie te ete gaan haal.
Ek soek kos vir hulle en haal R20 uit my beursie. Ek wil vir Liandene sê: “Liandene, môre gaan jy na die skool se tuck shop toe en dan koop jy vir jou ’n chicken pie en ’n coke!”
Toe ek buite kom, spuit Theresa dat die water poeletjies om die woestynrosies maak – nes ek daarvan hou!
Ek gee die geld en die kos, maar Theresa klou die tuinslang vas en spuit lustig!
“Julle moet aanstaltes maak, Theresa, die son gaan nou nou sak!”
“Ag Mevrou,” sê sy terwyl sy die sproeiwater lustig rondswaai, “lat ek nog net so bietjie spuit met die hose pipe. Ek wou nog al my jare ôk ’n huisietjie met ’n hose pipe en ’n kraan gehad het, maar nou loop my tyd uit! Lat my maar nog so bietjie spuit vir die lekkerte. Liandene, ma se groot seun! Ai, my kênd! Ma hoop so jy gaan eendag ’n huisie met ’n hose pipe hê!’
Ek is skielik so dankbaar vir my hose pipe…
Teks
Om oor na te dink
Het jy genoeg?
Is jy tevrede?
Wil jy vir ander ook uitdeel al het jy dalk self nie genoeg nie?
Gebed
Here, U gee vir ons so baie en tog hou ons krampagtig vas aan ons goedjies. Here, werk in ons harte. Laat die skille van ons oë afval en laat ons hande oopgaan om te gee en te gee en te gee. Amen