Deel te hê aan die eer en kosbaarheid
Baie keer moet ’n mens eers iets ontdek om te weet wat jy al die jare gemis het. Ons het ’n klein staal vuurmaak plekkie in die huis gehad. As dit koud is, het ons gou die vuur aangesteek.
Ons moes die vuur woes stook om net ’n klein verandering in temperatuur in die huis te kon aanvoel. Ek dink die ding was nie lekker ontwerp nie, daarom het al die hitte saam met die rook in die koue nag verdwyn.
Toe hoor ek van ’n stofie wat uit Europa kom. Ons spaar en swoeg met die verkoopsman. Hy gee later in en ek en ’n vriend bou die oondjie in ons sitkamer in.
Ek kon nie glo hoeveel hitte die oondjie bymekaarmaak nie. Die hele huis word in ’n japtrap met een of twee stukkies hout verwarm. So wanneer die wolke nader sleep, maak ons die oondjie gereed om sy wonderwerke te verrig.
Die oondjie voeg waarde by ons lewe. Dit maak ’n groot verskil teen baie min koste. Dit is kosbaar vir ons. Maar dit kon ek eers ervaar toe die kaggeltjie met die oondjie vervang is en dit sy werk begin doen het.
Net so kan ’n mens eers die waarde wat Jesus toevoeg tot ons lewe ervaar as jy Hom innooi en Hom toelaat om Sey werk in jou lewe te doen. Eers wanneer ’n mens besef wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, besef ons hoe kosbaar Hy vir ons is.
Om Petrus se beeld weer te gebruik, wanneer ons eers besef dat ons ingebou is langs Jesus wat die lewende hoeksteen is, besef ons ons waarde. Dan besef ons dat ons ook waarde het en natuurlik dan ook moet sorg dat ons in die wêreld as lewende stene leef.
Ons het deel geword van God se familie met Jesus as ons Broer en omdat ons deel is hiervan ontvang ons soveel meer. Jesus en die Heilige Gees voeg waarde toe in ons lewens en wanneer ons weer stil gaan sit en besef wat ons alles ontvang het, is Jesus en wat Hy vir ons gedoen het, baie kosbaar vir ons.
7Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” 8en: “’n klip waaroor ‘n mens struikel en ‘n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem.
Ons wat glo, ons wat as lewende stene ingebou is, deel in die eer van die Goddelike huis. Ons kry die voordele. Ons het die Heilige Gees wat saam met ons die lewe leef. Ons kan in die snoesige huis van ons Vader onder Sy beskerming woon.
Dit is jammer dat soveel mense nog in die koue leef. Dis so jammer dat baie mense probeer om uit die koue te kom met ’n kaggeltjie wat nie eintlik werk nie. Hulle weet nie eers dat daar iets beter is nie. Hulle weet nie eers wat hulle mis nie.
Ons weet hoe kosbaar Jesus is. Ons weet watter waarde voeg die Heilige Gees toe in ons lewe. Ons weet van die toekoms en waarheen ons op pad is. Daarom, laat ons die mense van buite innooi na ons warm stofies, sodat hulle kan agterkom wat hulle mis. Mag hulle ook deur die Heilige Gees omgedop word om ook deel te hê aan die eer in God se huis.
Teks
1 Petrus 2:1-8
Om oor na te dink
Wat beteken dit vir jou om deel te hê aan die eer?
Wat beteken dit om ’n dankbare lewe te leef?
Hoe motiveer dit jou om ’n verskil te maak?
Gebed
Vader, ek het waarde, omdat ek deel is van U huis. Jesus is so kosbaar vir my. Help my om dit vir ander elke dag te wys. Amen.