Definisie van liefde
Ek probeer uitvind wat die woord “definisie” beteken. Die woordeboek sê: ’n Kort en presiese beskrywing van ’n idee of begrip.
So, ’n definisie help ons om te verstaan wat ’n woord regtig beteken.
En toe wonder ek … wat is dan die definisie van liefde? Wikipedia gee die volgende betekenis:
Oor die algemeen verwys liefde na ‘n sterk aantrekkingskrag en emosionele gehegtheid. Liefde kan die deugde van menslike vriendelikheid, deernis en toegeneendheid verteenwoordig. Dit kan ook barmhartige en liefdevolle optrede teenoor ander mense, jouself of diere beskryf.
Ek dink ’n mens het eintlik baie meer woorde nodig om al die fasette en vorms van liefde reg te beskryf. Ek glo ook dat elkeen liefde op sy of haar eie manier beleef en daarom ’n ander definisie of voorbeeld daarvan sal gee.
Tog is daar een definisie en voorbeeld van liefde wat vir die hele wêreld duidelik wys wat werklike liefde is en beteken. Jesus wat na die aarde toe gekom het en aan ’n kruis kom hang het: 9Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee.
Ware liefde doen dinge wat ons verstand nie altyd kan begryp nie. Hoe is dit moontlik dat God Sy volmaakte Seun, sonder enige sonde, na ’n gebroke wêreld stuur? Hoe kan Hy toelaat dat Jesus aan ’n kruis hang, ly en sterf? Hoe kan Hy Hom selfs laat afdaal na die doderyk?
Dit maak nie vir ons sin nie, maar dis wat Goddelike liefde doen. Dit gee alles, selfs vir dié wat dit nie verdien nie.
Maar dan die ergste van alles: Hoe kon God dit alles doen vir ’n hoop sondige mense soos ons?
Goddelike liefde ken geen grense nie. Dit sê nooit: “Jy is te veel hiervan” of “te min daarvan” – daarom is jy nie werd om liefgehê te word nie. Dit het nie vooropgestelde idees nie. Dit word nie hak-en-tak uitgedeel nie. Nee, Goddelike liefde daag by alle mense op.
Jesus was bereid om na die wêreld te kom vir alles mense. Vir die suksesvolle mense en die onsuksesvolle mense. Vir die vooraanstaandes en vir dié wat onder die sterre slaap.
Jesus het vir elke mens op aarde se sondes gesterf. Die gevolg is dat ons nou nie meer pa hoef te staan vir al die foute wat ons maak nie. Jesus het klaar die pak daarvoor gevat.
God se definisie van liefde lê nie in woorde nie, maar in een kragtige daad wat alles sê: God ís liefde.
Mag ons hierdie liefde gaan uitleef. Mag ons min woorde gebruik en net liefde doen. Mag die wêreld iets van Jesus ervaar omdat ons Sy liefde in die wêreld uitleef.
10Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word.
Teks
1 Johannes 4:7-21
Om oor na te dink
Wat is jou definisie van liefde?
Leef jy jou definisie?
Hoe kan ek daardie liefde wat ek ontvang het, uitleef teenoor ander?
Gebed
Vader, dankie dat U self die volmaakte definisie van liefde is. Ons wêreld het U liefde meer as ooit nodig. Help my om nie net daarvan te praat nie, maar dit werklik uit te leef. Mag ander U liefde sien en ervaar in alles wat ek sê en doen. Amen.