Die blikkie se boom val uit en al die jam loop uit.
As ek terugkyk oor my eie lewe, sien ek afdraaie op my pad wat ek nie eintlik moes vat nie. Sommige van die afdraaie was half per ongeluk, terwyl ander weer bewustelik was. Daardie afdraaie was nie binne die wil van God vir my lewe nie.
Gelukkig het ek gou teruggedraai van die meeste afdraaipaaie. Op ander het ek te lank gedrentel en die gevolge het baie seergemaak. Dalk kan jy met my vereenselwig.
Wanneer ek dan die volgende vers van Paulus lees, voel ek nie goed nie: 4Omdat julle in die Here bly, weet ek julle doen alles wat ek vir julle in my briewe voorskryf. En ek weet julle sal ook aanhou om dit te doen. Dis asof ons van nature meer wegbeur as wat ons naby die Here bly. Ek lees Paulus se briewe oor en oor en ek hoor en verstaan selfs wat ek moet doen, maar as dit by die doen kom, trap ek dikwels skeef.
Dit laat dink my aan die volksliedjie “Hou djou rokkies bymekaar”. Ek is ’n prentjie-mens en ek sien sommer hoe sukkel die ou om rigting te kry:
My voete loop na Wellington, maar ek ga’ Worcester toe
My voete loop na Wellington, maar ek ga’ Worcester toe
En in die gestoei en deurmekaarheid skets die liedjie ook die gevolg:
En die blikkie se boom val uit en al die jam loop uit. Ja!
Hoekom is dit so? Ek weet tog God se Gees is in my. Ek weet die dag toe ek Hom as klein seuntjie in my lewe genooi het, het God met Sy Gees in my kom woon. Ek wil só graag op die regte pad bly, maar as ek my weer kom kry, is ek op pad na Wellington.
Die antwoorde lê nie vêr nie. Ons moet besef dat God vir ons ’n vrye keuse gegee het. ’n Keuse om op Sy pad te bly of nie. Ons moet ook besef dat ons in sonde ontvang en gebore is. Hierdie twee is ’n kopkrap kombinasie en as jy hulle vrye teëls gee, sal jy nie op die regte pad eindig nie.
Daarom moet ons elke keuse wat ons maak eers gaan fynkam om te sien of dit ons op God se pad gaan hou of nie. Ons moet seker maak dat die besluit gebaseer is op die briewe en woorde van Jesus. En dan moet ons presies só gaan loop.
As ons nie die Bybel ken nie, ken ons ook nie die Here se pad nie. As ons dan ons voete in die wêreld neersit, is die risiko net soveel groter dat ons in die verkeerde rigting gaan foeter. Dit help nie my kop sê ek moet Worcester toe, maar as ek begin loop, staan my voete in Wellington se rigting nie. Jy sal nooit by Worcester uitkom nie en die blikkie se boom val uit en al die jam loop uit. Ja!
Ek besef ons moet nog meer tyd maak vir God in ons lewens. Ons moet nog meer tyd maak om in God se Woord deur te bring. Want dan sal God ons gedagtes vernuwe en wanneer ons gedagtes nuut is, sal ons wysheid ontvang om op God se paaie te bly. Die jam sal dan in die blikkie bly sodat ons dit vir die mense kan gee wat dit so nodig het.
Teks
Dink bietjie hieroor
Hoe loop jou lewe?
Waar draai jy verkeerd af?
Hoe nou gemaak?
Gebed
Here, U sê in U woord dat U getrou is en dat U ons van die bose sal bewaar. Ek het U hulp nodig om gehoorsaam te wees wanneer U my lei. Ek het U hulp nodig om die regte keuses by die kruispaaie van die lewe te maak. Help my asseblief. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.