God se Woord in vandag se woorde

Die coach se gebed


Ek en Renata sit op die lughawe en eet vinnig ietsie voor ons die hemele bestyg. Ek is haastig om te bestel, want netnou moet ons loop voor die kos gekom het. Dan sal ek nie dik van die lag wees nie.

Renata maak soos sy altyd maak en neem haar tyd. Sy begin sommer met die man langsaan te praat. Hy is ‘n bofbal-coach. Hulle praat lekker en toe hy vra wat ons doen, kon ek sien hy dink effe dieper.

Dadelik sê hy, hy voel so sleg oor sy manier van lewe. Hy doen nie altyd die regte dinge nie, maar die grootste wat hom kwel, is dat hy nie genoeg bid nie.

“Ja,” sê Renata, “met gebed praat ons mos met God.”

Hy sak sy kop so-effe en sê: “Om die waarheid te sê, ek het lanklaas gebid.”

Toe hy opstaan om te loop, sê hy, hy gaan nou ’n punt daarvan maak om elke oggend te bid.

Gebed is mos om te praat. Dis in gesprekke met ander mense wat ons mekaar leer ken, waar ons die vrymoedigheid kry om ons hart oop te maak en ons sê te sê. Dit hier waar ons verdien om ook te kla en ons behoeftes in opregtheid op die tafel te sit.

Wanneer ons in gebed met God praat, leer ons ook mekaar ken. Wel, eintlik ken God klaar vir ons, want Hy het ons mos gemaak. Ons ken Hom egter nie so goed nie, daarom dat ons gedurig met Hom moet praat. Om Sy hart te hoor, om Sy wil vir ons lewe te hoor, om te verstaan waarheen Hy met my op pad is.

In my gesprek met God, kan ek my sê sê. Soos die Engelsman sê, “speak your mind”. Daai dinge wat so woes pla. Daai uitdagings by die voordeur. Die dinge wat nie klopdisselboom loop nie. Op ’n manier verdien my gereelde gesprekke met God dit.

As ek dan daar by die stopstraat in die lewenspad staan en nie lekker weet watter kant toe nie, het ek die vrymoedigheid om net daar te stop en vir God te vra vir wysheid met die besluit. Dis slegs moontlik in ’n intieme gebedsverhouding met God.

Hier is ’n belofte vir jou: 6 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, Hy sal dit aan hom gee.

Let wel hier staan nie, karre of huise of geld of status of selfs geluk nie. Net wysheid. Dit laat my nou aan Salomo dink. God het vir hom gesê hy kan enige iets vra en God sal dit vir hom gee. Salomo kies nie al die geld in die wêreld nie. Hy kies nie die beste land of vee nie. Hy vra net vir wysheid.

Met wysheid kan ons die wêreld vir seker anders maak. Ons kan ons eie lewens soveel beter maak. Laat ons daarom seker maak dat ons gedurig met God praat. Laat ons ons bes probeer om, soos die coach, elke dag by God uit te kom, sodat wanneer ons wysheid nodig het, ons die vrymoedigheid het om daarvoor te vra. Dan sal ons oorval word met vrede, want God se beloftes sal dan waar word.

Teks
Jakobus 1:1-8

Om oor na te dink
Hoe lyk jou gebedslewe?
Spandeer jy genoeg tyd om met God te praat?
Maak jy genoeg tyd om na God te luister?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek nie genoeg tyd maak vir U nie. Ek praat nie genoeg met U nie en ek luister nog minder. Help my om meer tyd saam met U te spandeer. Help my om te luister vir U wysheid. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek