Die duiwel aan die woord
Ek lees nou die dag weer die stuk waar Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is. Dit was maar ’n nare affêre. Met die tweede versoeking sê die duiwel vir Jesus dat hy van die kerk se toring moet afspring, want, sê hy: Mat 4:6… Daar staan mos in die Bybel geskryf: “God het vir sy engele gesê dat hulle jou moet beskerm. Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.”
Die duiwel haal sommer self uit die Woord van God aan. Kyk wat staan in Ps. 91:11 Sy engele sal jou omring wanneer die Here vir hulle sê om dit te doen. Hy sal sê dat hulle jou moet beskerm.
Dis dalk nie woord vir woord nie, maar kom ons gee die ou dit toe, hy ken sy Bybel. Onthou, die duiwel was immers in ’n stadium ’n engel. Maar die belangrikste om te weet is dat hy die Bybel heel waarskynlik baie beter as ons almal ken. Hy weet watter verse om uit te ruk om ons om die bos te lei.
Paulus weet dit ook. Daarom dat hy reguit is: 12Dis nie ’n oorlog teen gewone mense nie. Ons moet teen die onsigbare geestelike magte van Satan veg. Hulle hou hulle sterk hier op aarde en doen bose dinge, maar kom eintlik van oral af. Sorg dat julle al die wapens reg hou wat God vir julle gegee het sodat wanneer die bose magte op julle toesak, julle nie ’n duim vir hulle hoef terug te tree nie. Met al sy aanvalle en dinge sal die duiwel net mooi niks aan julle kan doen nie. Julle sal die wenners wees.
Dit is ’n feit soos ’n koei. Dit is oorlog daar buite en die taktiek is van die vuilste in die boek. Vir sommige mense word daar strikke gestel om na pornografie te loer, sommige kyk dieper in die bottels, ander doen weer deals onder die tafel. Alles net om die self beter en lekkerder te laat voel.
Maar vir ander maak die duiwel nog sluwer planne. Hy weet daar is sommige wat stewig staan en nie sommer in die verkeerde paaie sal afdraai nie. Vir dié mense laat hy net nog ’n bietjie harder werk, want hy weet dat hulle dan minder tyd het om aan verhoudings te werk en voor hulle mes kan sê, val alles rondom hulle uit mekaar en hulle is vervreemd van God. Sommige werk so hard aan die dinge van Jesus dat hulle op die ou end die Jesus van die dinge langs die pad verloor.
’n Gelowige vriend van my sê dat die duiwel hom nie versoek om eensklaps op te hou met Bybel lees nie. Hy sê nee, hy probeer net elke oggend, dag vir dag, om hom te keer om soggens tyd te maak vir Bybel lees. Stukkie vir stukkie probeer hy sy voet in die deur kry en voor jy jou kom kry, vat hy alles oor.
Hierdie is nie bangmaakstories nie. Nee, ons hoef nie bang te wees vir die duiwel nie, want Jesus het hom in ieder geval alreeds aan die kruis oorwin. Dit beteken egter nie dat hy nie meer sy bes gaan probeer om ons van God se pad af te rokkel nie.
Daarom moet ons paraat wees. Ons moet voorbereid wees op aanvalle van sy kant af. Weet ook dat hoe meer erns jy met God se dinge gaan maak, hoe meer gaan die aanvalle kom. Hulle sê mos: Hoë bome vang die meeste wind.
Sorg dat jy reg ge-gear is vir die aanvalle en dat jy dit hand aan hand met die Heilige Gees doen, want dan sal jy as wenner uit die stryd tree. Dis God se belofte.
Om oor na te dink
Waar probeer die duiwel jou van die pad af dwing?
Tree hy soms as die wenner uit?
Hoe kan jy jou voorberei?
Gebed
Vader, ek besef maar net weer hoe slinks die duiwel is. Ek besef dis oorlog daar buite en dat ek myself beter moet voorberei. Ek wil meer tyd met U deurbring sodat ek meer toegerus is vir die stryd. Amen