Die een se dood is die ander se brood
Ek het hierdie teks nog nooit raakgelees nie: 24…Deur sy wonde is julle genees. (1983- vertaling) Ewe skielik kry die spreekwoord “die een se dood is die ander se brood” vir my ’n heel ander betekenis.
Ons wonde, die gate wat sonde in ons gemaak het, die wonde wat ons verkeerde dade in ons lewe geruk het, word genees. Nie genees deur ons liggaam wat ontwerp is om self rowe op te sit en weefsel om te herstel nie. Nee, dis die wonde van Jesus wat ons wonde weer herstel.
Jesus self het nie wonde van die sonde gehad nie. Onthou, Hy was sondeloos en juis daarom was Hy die enigste geskikte kandidaat om vir die mensdom se sonde te betaal.
Hy het na die aarde gekom om gewond te word deur vloekende woorde van mense wat Hom nie herken het as die Verlosser nie. Hy is gewond deur swepe wat stukkies vleis uit Sy liggaam geruk het. Wonde is uitgekap waar die spykers deur Sy polse en enkels is en waar ’n spies in Sy sy gesteek is. Die grootste wond sekerlik waar die lewe uit Sy liggaam gewurg is.
Hierdie wonde, hierdie sterf van Jesus aan die kruis en dank Vader, die opstanding ’n paar dae later, genees ons wat Hom aangeneem het as ons Verlosser, se wonde. Waar daar gate in ons was, is daar nie rowe wat probeer om te herstel nie, maar nuwe vel. ’n Nuwe lewe.
Waar ons eintlik moes honger ly en sterf as ons verdiende loon vir al die sondes wat ons bymekaarkry, word ons uitgenooi om aan die Almagtige God se etenstafel vir ewig te gaan sit en kan ons deel hê aan die brood van die lewe.
Ek sit vir ’n oomblik stil en probeer begryp wat Jesus vir my gedoen het. Op ’n manier is die groot waarhede te veel vir my verstand om in te neem. Hoekom sal ’n grote God Sy Seun laat hang aan ’n kruis vir ’n sondige mens soos ek?
Hoekom sal Jesus doodgaan, sodat ek aan die brood van die lewe kan smul? En dan stadig gaan ’n liggie aan. Dis alles omdat God vir my lief is. Sy liefde vir my is so groot dat Hy alles sal doen om vir my die brood van die lewe op my tafel te kom sit.
Sjoe! Hoe lewensveranderlik is dit nie vir my nie!
Wanneer ek dan van die spreekwoordelike broodtafel opstaan, wil ek nie terugkeer na my ou manier van leef nie. Ek wil nie weer toelaat dat die sonde wonde op my liggaam maak nie.
Dan wil ek juis voldoen aan die wens van die een wat dood is, sodat my wonde kon heel word: 24… Jesus wil graag hê dat julle reg sal leef soos God van julle verwag en dat julle nie verkeerde dinge sal doen nie.
Ja! Ek wil seker maak dat die verkeerde dinge nie meer in my lewe ’n realiteit is nie. Ek wil seker maak dat ek sal lewe soos wat God wil hê ek moet lewe. Ek wil my lewe so inrig dat ek ook brood gee aan die honger mense in die wêreld daar buite.
Ek wonder net of ek ook bereid is dat my dood ander se brood is?
Teks
1 Petrus 2:22-25
Om oor na te dink
Wat veroorsaak nog wonde by jou?
Waar moet jy anders leef?
Is jy bereid om brood vir ander te gee?
Gebed
Jesus, dankie dat U bereid was om te sterf, sodat my wonde van die sonde kon genees. Help my om ander se wonde ook te genees, al kos dit wat. Amen.