Die Ewige Lewe reis het reeds weggespring
Baie keer bly waarhede vir ’n mens verborge. Om een of ander rede vra ’n mens dalk net nie die regte vrae nie of dalk staan ’n mens nie stil genoeg om die betekenis van iets te laat insink nie.
So het ek nooit gaan stilstaan by die, kan ek dit noem, gebeurtenis of is dit nou betekenis van die ewige lewe nie. Ja, ons almal weet dat as ons vir Jesus as ons Verlosser aanvaar het, dan gaan ons vir ewige lewe.
Dit is egter ’n verkeerde stelling. Ons gaan nie vir ewig lewe nie. En dit is hier waar die ware betekenis van die ewige lewe my kop oopgeskiet het, want die ewige lewe gaan nie opdaag nie, maar is reeds hier.
Die ewige lewe begin nie as ek die dag my kop vir ewig hier op die aarde neerlê nie. Nee, ons het reeds begin om vir altyd te lewe, die dag toe Jesus in ons lewe ingestap het.
As ons Kruger Wildtuin toe gaan, is daar so ’n opgewondenheid in my en dit begin al by die bespreking amper ’n jaar voor die tyd. Gedurig praat ek en my vriende wat saamgaan, oor die wonderlike vooruitsig.
Saans rondom die vuur wonder ons oor die pad wat ons gaan vat en waar ons gaan oorslaap. Ons beplan die spyskaart en sê wie moet wat saambring en wie die stokke elke aand moet vat.
Die aand voor die tyd kan ’n mens omtrent nie slaap nie en soos gewoonlik maak ek almal heeltemal te vroeg wakker, want ek kan net nie meer wag dat die Ford sy neus noord moet druk nie.
Jy sien, as jy weet waarheen jy op pad is, is daar iets anders in die lug. Dan is daar ’n opgewondenheid wat niks of niemand van jou kan wegneem nie. Selfs al kry jy ’n pap wiel langs die pad, haal jy met ’n huppel in jou stap die domkrag uit en ruil die band in ’n japtrap om.
Die feit dat ons reis om vir altyd te lewe reeds begin het, moet ons ook so opgewonde maak. Die wete dat ons reeds begin het met die reis, moet ons anders deur die lewe laat loop. Ons weet mos waarheen ons op pad is en waar dit ons gaan uitbring.
Tog is dit nie altyd sigbaar in ons lewe nie. Baie keer breek die dinge wat oor ons pad kom, ons spoed. Ons sak net daar inmekaar en raak ’n pappery omdat daar nou alweer ’n uitdaging oor ons pad gekom het.
Die probleem is dat ons fokus op die probleem, of uitdaging, of pap wiel op ons pad, in plaas daarvan dat ons fokus op die reis waarmee ons besig is. Wanneer ons op ons reis fokus en waarheen ons op pad is, sal ons die uitdagings in ons pad anders hanteer.
2Maar wie is hierdie Jesus van wie ons praat? Dit gaan oor die Een wat ons kom vertel het waar om die ewige lewe te kry.
Dalk moet ons êrens ’n plekkie kry om af te trek en indrink wat Jesus vir ons reggekry het. Sy dood aan die kruis het dit vir ons moontlik gemaak om reeds op ‘n ewige lewe- reis te wees. Maak ’n punt daarvan om te midde van alle pap wiele die reis te geniet. Ons weet mos waarheen ons op pad is.
Teks
1 Johannes 1:1-4
Om oor na te dink
Glo jy dat jou reis van ewig lewe reeds begin het?
Hoe verander dit jou reis op aarde?
Sien ander die anders raak?
Gebed
Jesus, dankie dat ek reeds die reis van die Ewige Lewe kon begin. Help my om juis daarom anders deur die lewe te leef. Amen.