Die goeie dosent
Prof. Anton van Niekerk was my dosent in Filosofie gedurende my eerste jaar. Hy het ’n ongelooflike gawe gehad om ander te leer. Ek onthou tot vandag nog sy klasse. Daar was een spesifieke klas waar hy die waarde van ’n stoel verduidelik het.
Die stoel het geen waarde as iemand nie daarop sit nie, maar sodra iemand daarop gaan sit, het dit waarde vir daardie persoon. Met handgebare en sy hele lyf wat saampraat, was hy skoon uitasem na sy verduideliking. Die hele klas het spontaan vir hom ’n staande toejuiging gegee.
Sy klasse was elke keer stampvol. Hy het nooit roll call geneem nie, want almal wat ingeskryf was vir sy kursus wou daar wees. Dis interessant dat die swak dosente altyd roll call geneem het. Dit was dus nie hul manier van klasgee wat bepaal het of die studente hulle klas bywoon nie. Die dosent dwing hulle so te sê met die invul van ’n teenwoordigheidslys om op te daag.
Sodra studente die werklike lewe instap, kom hulle gou agter dat hulle nog lank nie klaar geleer het nie. Daar in die markplein leer jy omtrent nog drie jaar voltyds van hoe die dinge nou eintlik werk.
Eintlik hou ’n mens nooit op met leer nie. Elke nou en dan kom daar ’n nuwe ontwikkeling of ’n nuwe stuk tegnologie wat die werksplek heeltemal in ’n ander rigting druk. Dan is dit weer tyd vir student word.
Ek het agtergekom dat hoe ouer ’n mens word, hoe moeiliker is dit om nuwe goeters aan te leer. Hulle sê mos you cannot teach an old dog new tricks. Ja, ek is ook nie eintlik meer lus vir nuwe dinge aanleer nie.
Gelukkig het ons ook ’n dosent vir ons geestelike lewe. Jy sien, toe ons vir Jesus aangeneem het as ons Verlosser, was ons babatjies in die geloof. Ons het nie lekker geweet hoe ons as kinders van God behoort te leef nie.
Ons kon nie op ons ou manier van lewe aangaan nie. Daardie manier pas by die ou mens. Ons moet ontslae raak van die ou klere en nuwe klere aantrek wat by ons nuwe lewe in Christus pas.
Daarvoor het ons die Heilige Gees as dosent gekry.
27… Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles wat waar is. Julle kan Hom maar glo, want Hy lieg nie.
Die Heilige Gees ken die pad wat ons moet stap. Hy wil ons leer om in alle omstandighede die regte keuses te maak om op die pad van die waarheid te bly.
Hy weet watter afdraaie bring pyn en watter bring vreugde. Hy weet die regte manier wat ons moet lewe om vir God trots te maak op ons. En dit wil Hy vir ons leer.
Die Heilige Gees is gereed en wag vir ons. Die Heilige Gees is soos my Filosofie dosent en bied die klasse baie interessant aan. Hy hoef nie roll call te neem nie. Jy moet net opdaag en gereed wees om te leer.
Maak tyd. Maak ’n afspraak elke dag. Kry vir jou ’n plekkie om stil te word. Lees God se Woord en wag vir die Heilige Gees om te begin doseer.
Teks
1 Johannes 2:24-29
Om oor na te dink
Ken jy die Heilige Gees as dosent?
Wat kan jy doen om jou dosent meer ruimte in jou lewe te gee?
Is jy gereed om op te daag vir Sy lering?
Gebed
Vader, dankie vir ’n dosent om my te leer. Help my om elke dag tyd te maak om klas by te woon. Help my om Sy leringe in my lewe toe te pas. Amen.