Die goeie nuus op die regte tyd
Wanneer jy ’n Damaskus ervaring soos Paulus gehad het, verander jou lewe handomkeer. Waar Paulus voorheen die Christene uitgemoor het, speel hy nou 100% vir die anderkant. Hy kan nie anders as om al sy energie te gebruik om mense van Jesus te vertel nie. Wanneer ’n mens van aangesig tot aangesig met Jesus kontak gemaak het, verander alles 100%.
Geen tronk kan Paulus keer nie. Geen stok wat sy liggaam tref of ’n geskree of gespoeg van ’n soldaat sal hom keer nie. Die passie om ander te spaar van die ewige vuur brand onophoudelik en niks kan dit blus nie. 4Ek wil vir almal die geheim vertel dat Christus ook vir hulle bedoel is, al sit ek ook juis daarom vandag in die tronk. Vra God om my te help om die regte dinge op die regte tyd te sê wanneer ek vir mense van Jesus vertel.
Ek is skaam as ek na my eie vuurtjie kyk. So maklik word dit geblus of doodgewaai. So maklik bly ek stil en sê eerder niks, want deesdae moet ons mos vir almal ruimte gee om te glo soos hulle wil.
Ek haal my hoed af vir ’n paar onderwysers in my seun se skool. Hulle het ’n behoefte gesien om pa’s te help om by hulle seuns uit te kom en het ’n beweging begin met die naam Engage. Enige pa en seun is welkom.
Hulle weet daar is baie wat nie Christene is nie. Hulle is versigtig en probeer nie op tone trap nie. Tog is hulle nie bang om presies te sê in wie hulle glo nie. Selfs die hoofseun wat direk met die jongelinge gepraat het, het dit duidelik gemaak dat hy ’n keuse vir Jesus in sy lewe gemaak het. Dit was wonderlik toe dit juis die hoofseun is wat die aand afsluit met ’n gebed en die seën oor almal uitspreek.
Hier kon ’n mens duidelik sien daar is vandag nog mense wat net soos Paulus nie kan stilbly nie. Die geheim moet uit. Maak nie saak wat die risiko is nie, of dit nou die tronk is en of dit die regering is en of dit dalk vriende is wat jy kan verloor, elke mens moet die goeie nuus hoor.
Ek dink hulle verstaan hoe om die regte dinge op die regte tyd te vertel. Ja, hulle is sensitief en gee ruimte. Maar tog beteken dit nie dat hulle stilbly nie. By hook or by crook, die boodskap moet uit!
Ek besef dat ons dit nie op ons eie kan laat werk nie. Paulus besef dit ook. Ek vermoed Paulus se geaardheid neig eerder na ’n “Draai of Braai” tegniek, daarom vra hy vir versterkings. Ons almal is te lig in die broek. Of ons vuur word doodgeblaas òf ons is onsensitief en jaag mense weg nog voordat ons die kans gekry het om die boodskap oor te dra.
God moet ons help. Ons het die leiding van God se Gees nodig om op die regte tyd die regte dinge te sê en te doen. Mag dit so wees. Mag ons sensitief wees vir die leiding van die Gees.
Laat ons Paulus se voorbeeld nastreef. Mag ons soos die onnies by my seun se skool en soos die hoofseun brand om die goeie nuus uit te dra en mag God se Gees ons lei om dit op die regte manier en op die regte tyd te doen.
Teks
Kolossense 4:2-6
Om oor na te dink
Brand jy om God se geheim uit te kry?
Doen jy dit op die regte plek en tyd?
Kry jy versterkings in?
Gebed
Vader, help my om die beste gebruik te maak van elke geleentheid. Help my om nie skaam te wees om die goeie nuus van verlossing aan ander te vertel nie. Amen.