God se Woord in vandag se woorde

Die groot vervaldatum


As jongmens het ek nooit gedink aan oudword en dat alles eendag tot stilstand gaan kom nie. Nog minder dat my lewe ook êrens tot ’n einde gaan kom. Dis seker omdat ’n mens soveel tyd insit om jou eie lewe in die woeste wêreld uit te kap, dat ’n mens nie tyd het om aan sulke goed te dink nie.

Ek kan nie lekker onthou wanneer ek begin besef het dat my lewe ook ’n datumstempel het nie. Ek vermoed dit was seker toe die kinders gekom het, dat ek begin wonder het wat met hulle gaan gebeur as ek nie meer die dag daar is om vir hulle te sorg nie. Dit was seker my finansiële raadgewer se skuld.

Deesdae dink ek baie daaraan en besef ek dat my vervaldatum nader is as wat my geboorte vêr is. Selfs hier waar ek deur die wildtuin ry en die mooi ou kremetartbome sien, maar ek geen jongeres sien nie, wonder ek of ons kleinkinders se kinders die bome net op prentjies gaan sien. Het die spesie dan ook ’n vervaldatum?

Ja, eendag gaan die hele wêreld haar vervaldatum bereik. 26Destyds het sy stem die aarde laat bewe, maar nou beloof Hy: “Ek sal nog ’n keer praat, en hierdie keer sal nie net die aarde bewe nie, maar ook die hemel.” 27Met die woorde “nog ’n keer” bedoel Hy dat alles op aarde uitmekaargeskud gaan word. Net dié dinge sal oorbly wat vir altyd daar sal wees.

Die wêreld gaan heeltemal anders wees. Die tydelike sal weg wees en net die permanente ewige sal oorbly. Daar sal vrede heers en die sondige natuur van die mens sal nie meer daar wees nie. Dit sal ’n Utopia wees en liefde sal oorheers. Hoe lekker sal dit nie wees nie?

Tog maak dit vir baie van ons bang. Ons, let wel, ek sluit myself hierby in, het so vasgegroei in die wêreld en geniet dit so hier, dat ons nie eintlik na ’n ander plek toe wil gaan nie. Ons is bang vir die onbekende. En as daar nog ’n klomp skuddings en storms gaan wees, sien ’n mens nog minder daarna uit.

Dis menslik.

Ons moet egter nie toelaat dat hierdie waarskuwing dat daar wel ’n vervaldatum is, ons spoed breek nie. Maak vrede met jou ongemaklikheid om alles wat bekend is, so te los. Begin ’n lewe te leef waar jy uitsien om vir God te ontmoet.

Berei jou voor vir die skudding en sorg dat jou saak reg is met God. Leef ’n lewe wat vir ander wys dat jy reg is as jou en die res van die wêreld se vervaldatum aangebreek het. Help ander wat nog in vrees lewe en stap voor hulle uit, sodat hulle vrees ook vir eers op die ys gesit word.

Teks
Hebreërs 12:25-29

Om oor na te dink
Wonder jy ook soms oor jou vervaldatum?
Is jy ook soms bang daarvoor?
Hoe kan jy rustigheid daaroor kry?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek soms bang is om die lewe hier op aarde te verlaat. Help my asseblief om nie bang te wees nie. Help my om nie so vasgeheg te wees aan die wêreld, dat dit my oë op die lewe hierna verblind nie. In Jesus se Naam, amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek