Die Heilige Gees se pad in jou
Die vraag waaroor ek seker die meeste in my lewe gewonder het, was oor hoe ’n mens die stem van die Heilige Gees hoor. Ja, ons het net ’n tydjie terug gehoor dat Hy beheer neem oor ons gewete.
Die gewete se werk is om ons te waarsku as ons verkeerd doen, maar hoe kry ons antwoorde op vrae wat nie te doen het met verkeerde dinge in ons lewe nie? As ek leiding nodig het oor ’n belangrike saak, waar tel ek die telefoon na die Heilige Gees op?
Daar is mense wat die Heilige Gees in ’n hoorbare stem hoor. Dis ’n gawe wat ’n mens self van die Heilige Gees ontvang. Baie van ons het nie dié gawe nie.
Ek het lank hiermee geworstel, tot ek eendag wakker geskrik het met ’n duidelike beeld. Dit is baie eenvoudig, maar het vir my soveel sekerheid oor die werking van die Heilige Gees in my gegee.
Vanaf ons eie hart loop daar ’n pad na ons verstand. Wanneer ons hart met ons “praat”, beweeg die kommunikasie vanaf ons hart na ons verstand en ’n gedagte pop in ons verstand op. Ons het nou ’n keuse hoe ons daarop reageer.
So kan ek byvoorbeeld verby ’n persoon in nood stap en my eie hart kan ’n gedagte via die pad na my verstand stuur. Daar pop ’n gedagte op of ek nie die persoon dalk moet help nie? Ek besluit dan self of ek iets daaraan gaan doen of nie.
Via ons ore en ons oë kom daar ook impulse via hierdie pad na ons verstand. Die wêreld lok ons met mooi prentjies van goeters en wil hê ons moet daarin inkoop, want dis in of dis lekker of dis die en daai.
Maar dis nie alles net negatief wat van buite af inkom nie. Wanneer God deur Sy Woord met ons praat, kom daardie kommunikasie ook via dieselfde pad na ons verstand en ons kan besluit of ons die waarheid wil volg of nie.
Net so gebruik die Heilige Gees dieselfde pad. Ons weet mos dat die dag toe ons vir Jesus as ons persoonlike Verlosser aanvaar het, het die Heilige Gees hier in ons kom woon.
Die Heilige Gees is ons Helper en help ons om meer en meer soos Jesus te word. Hierdie hulp kom van die Heilige Gees via dieselfde pad tot binne-in ons verstand.
Maar nou hoor ek jou al sê dat jy “hoor” dan niks of daar pop geen gedagtes van die Heilige Gees in jou kop op nie. Wel, die kommunikasiepad van ons is redelik besig. Die meeste van die kere is dit spitsverkeer en elkeen moet baklei vir sy stukkie van die pad.
Die Heilige Gees praat mos sag en dis nie Sy styl om te stamp en stoot nie. As ons nie gaan af-gear en stil raak en eers al die ander geraas uit die pad kry nie, letterlik en figuurlik, gaan ons heel waarskynlik sy rigtingwysers mis.
Hoe meer ons vir ons ’n aftrekplekkie gaan soek om stil te staan en al die ander geraas en bedrywighede opsy te stoot, hoe meer en hoe duideliker sal die gedagtes van die Heilige Gees in ons verstand op pop.
Probeer dit net.
Teks
1 Johannes 2:24-29
Om oor na te dink
Hoe besig is jou lewe?
Maak jy tyd om ’n aftrekplekkie te soek?
Waar kan jy ’n stil plek in jou lewe elke dag maak?
Gebed
O, Gees van God, wat in my woon, help my om stil te maak waar dit so in my raas en te luister as U praat. Amen.