God se Woord in vandag se woorde

Die hemel trek en stoot nou al


Johannes slaan die spyker in met sy woorde oor die ewige lewe, en ons stap agter hom aan.

My seun het die voorreg gehad om deel te neem aan die Ysterman-wêreldkampioenskap in Kona, Hawaii. Dit was ’n groot eer om sy land te verteenwoordig in sy ouderdomsgroep. Hy het hard geoefen. Twee sessies per dag vir byna ’n jaar. Sy afrigter het gesê hy glo nie eintlik in afdae nie.

Hy was in ’n goeie kondisie. Hy was goed voorbereid en het saam met die eerste groep professionele atlete uit die water gekom. Na die eerste 90 km op die fiets het hy geweet: hierdie keer sny hy ’n volle uur van sy vorige probeerslae af.

Maar net toe hulle draai en die afdraande vat, verloor hy sy voorste ratwisselaar. Hy moes letterlik hinkepink tot by die oorgangspunt vir die marathon. Elke keer as die bussie verbykom wat uitgeputte deelnemers optel, was die versoeking groot om net op te gee.

Maar hy het vasgebyt, uitgehou en aangehou. Al het die teleurstelling oor die fiets en die ontwrigting van sy voeding hom amper ondergekry, het hy net aangehou. Hy het gedink: ek het darem té veel ingesit om nou alles net in die mis te laat verdwyn.

En toe, uiteindelik – al was dit later as wat hy beplan het – het hy by die wenstreep aangekom, arms in die lug. Want dit is juis daardie einddoel wat hom getrek én gestoot het om nie handdoek in te gooi nie.

Jesus het ook die einddoel in die oog gehad. Hy het geweet Sy lyding en dood sou vir baie mense die kans gee om deur die hemel se hekke te stap. Die wete dat Hy weer langs Sy Vader sou wees, het Hom moed gegee om aan te hou, selfs in die moeilikste omstandighede.

Ons bure se kinders het onlangs na Afrika gereis om Kilimanjaro te klim. Dis ’n geweldige berg om uit te klim. Op ‘n stadium was die lug só dun dat jy ’n paar keer moet asemhaal voor jy genoeg suurstof in jou lyf het om nog een treetjie vorentoe te beur.

Soms is dit net die einddoel wat ons aan die gang hou. Wanneer dit rondom ons donker raak, is dit daardie liggie in die tonnel wat ons deurtrek.

Daardie liggie is die plek waarheen ons op pad is. Soos Johannes sê: 13Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het.

Soos wat die Heilige Gees ons motiveer om te bly glo, só is die ewige lewe vir ons ’n lig in die tonnel – dit trek ons vorentoe. Ons weet waarheen ons op pad is en daardie fokus help ons om deur die omstandighede waarin ons nou is, te beur.

As kinders van God het ons soveel voorregte. Ons hoef nie alleen deur die lewe te sukkel nie. Die Heilige Gees is ons Helper. Ons het ‘n toekomsvisie wat ons trek en stoot. Laat ons dit wat op ons bord is, aanvat en wegwerk, want ons weet: die beste lê nog voor.

Teks
1 Johannes 4:7-21

Om oor na te dink
Watter dinge lê nou op jou bord?
Waarop fokus jy?
Hoe kan die hemel jou nou al help?

Gebed
Vader, dankie dat U my vandag herinner aan die ewige lewe wat wag. Trek en stoot my deur U Gees, sodat ek nie tou opgooi nie, maar uithou tot ek by U einddoel uitkom. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek