Die lewe is nie maklik nie!
Die lewe is nie maklik nie!
Dis asof kanker onder elke bos uitgeskop word. Motorongelukke raak net meer en groter en saai ongelooflike verwoesting. Sonder aankondiging sak die son oor mense se finansiële landskap en dis nag.
Ewe skielik leer ons woorde soos palliatiewe sorg. Mense staan lang toue by ’n MRI- skanderingsmasjien. My groot vriend val hom een nag te pletter toe hy opstaan om badkamer toe te gaan. Na ’n hoop toetse kondig die tydelike hartmonitor aan: Jou hart het die afgelope sewe dae vyf keer gaan staan.
By die werk moet ’n mens net nog harder werk en die bloed loop al uit die klippe. Stres laat jou sweet koud en jy skrik sopnat van angs wakker. Die einde van die maand is al weer hier en die minusse is wéér meer as die plusse
Die lewe is vir seker nie maklik nie.
Of ons dit nou wil weet of nie wil weet nie, dis die lewe. Die diepte verskil net. Soms gaan dit beter en dit lyk of die son sy kop wil lig oor ons horison. Meermale is dit nie die geval nie en dan wil ons nie verder nie.
Die eerste eeu se Christene ken ook hiervan. Dalk net in ’n erger graad, want behalwe die alledaagse uitdagings, het hulle keuses gemaak dat daar ’n swaard oor hulle kop hang. Letterlik!
Die vraag is reguit gevra: Is jy aan Jesus se kant of nie? As jy volgens hulle aan die verkeerde kant gestaan het, is jy gehang, enige kant om of sommer net daar met klippe doodgegooi.
Vir die eerste Christene was die lewe regtig nie maklik nie.
Vir die ouens wat op moedverloor se vlakte boer, kom gee Petrus hoop: 22Jesus is na God toe en daar sit Hy op die ereplek direk langs God. Van daar heers Hy oor alles en almal. Selfs die onsigbare magte en die engele staan onder sy gesag.
Die mense kry swaar en dit voel seker vir hulle of die oorlog deur die vyand gewen is, want hoekom moet hulle so swaar kry? Maar dis nie waar nie. Die oorlog is juis gewen daar aan die kruis toe Jesus uit die dood opgestaan het.
Die dood kon Jesus nie onderkry nie. God het Hom kom haal en Hom ’n ereplek gegee aan Sy regterkant. Hier heers Hy. Hier is Hy in beheer en almal, ja, selfs die bose magte sidder vir Hom.
So, al kry ons swaar hier op aarde, dis net tydelik. Die oorlog is wel gewen en ons Koning heers. Ons moet ons oë oplig hier waar dit baie keer nie maklik is om te lewe nie en ons oë rig op ons Koning wat heers en reeds alles oorwin het.
Ons gaan ook eendag daar lang ons Vader God en ons broer Jesus sit en vol vreugde feesvier. Mag hierdie wete vir ons moed gee om nou aan te hou beur, want die prys wag vir ons aan die anderkant. Dan sal die lewe hier effe makliker wees.
Teks
1 Petrus 3:18-22
Om oor na te dink
Waar swoeg jy?
Het jy hoop?
Fokus jy op Jesus?
Gebed
Jesus, ek kry swaar. Erg swaar. Ek het hulp nodig om te oorleef. Ek fokus op U en waar U sit, maar ek het U nou hier nodig. Amen.