Die Lig in die duisternis
Die kragkrisis in Suid-Afrika het ’n baie groot negatiewe impak op die ekonomie. Baie besighede moes al hul deure toemaak. Ek wonder hoeveel mense is al dood omdat operasies nie op hulle uitgevoer kon word nie?
Ek wonder hoeveel ongelukke is al veroorsaak omdat verkeersligte nie werk nie? As ’n mens so in die middel van die nag ry en al die ligte is af, besef ’n mens eers wat die impak van straatligte is.
Sonde het ook ’n donker skaduwee oor ons lewe getrek. Die mens het in mekaar vasgeloop, omdat hulle nie kon sien nie. Mense het op ander getrap, bloot omdat hulle nie geweet het waar die pad is nie. Mense het tot hulle dood geval, omdat hulle nie die afgrond kon sien nie.
Vir ’n liefdevolle Vader soos God, was dit onuithoudbaar. Sy hart het gepyn om te sien hoe Sy kinders in die donker rondval. Daarom sit Hy ’n nuwe verlossingsplan op die tafel wat die kans aan die mensdom sal bied om vir ewig saam met Hom in die hemel te leef.
Jesus kom na die aarde en skakel die lig aan. Eintlik is Hy self die lig. Daar teen die berg het Petrus self gesien hoe Jesus se liggaam soos ’n lig skyn. Jesus het vir die mens die lig kom skyn, sodat hulle nie meer in die donker rondploeter nie.
As ’n mens in die donker is en nog nooit lig gesien het wat die donker kom verdryf en die skille van jou oë laat afval nie, dink ’n mens dis hoe dit moet wees. ’n Mens val maar so oor jouself en die kans dat jy een of ander tyd oor ’n afgrond gaan val, is maar hoe die lewe werk.
Maar as jy eers die lig gesien het, weet jy daar is soveel meer in die wêreld as om net orals in ander vas te loop. Wanneer die lig soos die môrester eers begin skyn het, maak daar ’n heel nuwe wêreld oop.
As ek so deur ons dorp se strate stap as die loadshedding ingeskop het, besef ek hoe donker dit is sonder lig. As ek dan nie my skerp flits by my het nie, is die kans goed vir val. Jesus is die môrester, die maan en die son in ons lewe. Sonder Hom ploeter ’n mens in die donker en val is net om die draai.
Daarom is dit lewensbelangrik dat ons meer en meer die lig laat opkom in ons lewe deur die Woord van God te lees. Petrus getuig van die gebeurtenis daar teen die berg waar hy, Johannes en Jakobus met hulle eie oë Jesus se verheerlikte liggaam gesien het.
Hy het gesien hoe Moses en Elia ook daar opdaag en ’n stempel op Jesus as Verlosser kom sit. Jesus is die Een wat aangestel as lig, om die mense uit die donker te kom red. Die Boodskap, die Woord, die Lig is waar.
19Hierdie gebeure daar op die berg het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste.
Moet nooit weer twyfel in die bron van jou geloof nie. Moet nooit weer wonder of die Woord van God waar is nie. Dis ’n feit soos ’n koei. As jy nie die pad van die lewe kan sien nie, gaan na God se Woord en laat die Lig jou pad vir jou verhelder.
Teks
2 Petrus 1:16-21
Om oor na te dink
Wat laat jou soms twyfel in jou geloof?
Glo jy dat Jesus lig bring vir die donker wêreld?
Hoe verlig Jesus jou pad deur die wêreld?
Gebed
Jesus, dankie dat U die lig vir die donker wêreld is. Dankie, Vader vir U Woord. Ek glo dat dit die lamp en lig is vir my voete deur die wêreld. Amen.