Die Nuwe hemel en aarde is op pad
Toe ek van die plaas na die korporatiewe wêreld geskuif het, moes ons huis koop. Dis nogal vir my snaaks hoe ’n mens se smaak altyd nét buite jou begroting is. Ons raak verlief op ’n huis, maar dis nie meer so nuut nie.
Met jare spaar ons en stukkie vir stukkie werk ons hard aan die huis. Ons doen die badkamers oor. Die geel kombuiskassies word uitgehaal en weggegee en pragtige splinternuwe blink kassies neem hul plek in.
Mure word uitgeslaan en dit word ’n lekker kuier-en-leef huis. Al die mure kry ’n nuwe verflaag. Selfs die tuin kry ’n nuwe natmaaksisteem en gou wys die plante hul tevredenheid en staan geil.
Nou bly ons in ’n splinternuwe huis waarvoor ons nie genoeg kan dankbaar wees nie. As ek terugdink aan hoe die huis gelyk het wat ons gekoop het, en vergelyk met die een waarin ons nou werk en speel, is dit soos kryt en kaas. Heeltemal verskillend.
Nuut is darem net lekkerder. ’n Nuwe kar ruik mos anders en jy verlustig jou aan al die nuwe knoppies en dinge, dis nou vir ’n man. Vrouens draai weer al in die rondte in nuwe klere.
Nuut is die beste. So is daar ook ’n nuwe aarde en hemel op pad. Soveel meer as wat ons ooit kan aan dink of kan picture. Soveel meer as ’n nuwe kar of rok of ring.
13Ons hou met alles in ons vas aan die belofte dat ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad is, presies net soos God belowe het. Daar sal God se wil seëvier. Wat ’n wonderlike vooruitsig!
Jesaja het al in sy tyd voorspel dat God ’n nuwe hemel en aarde gaan maak waar alles, ja, nuut gaan wees. Die mens sal nie eers meer aan die ou een dink nie en nog minder daarheen terugverlang.
Die mense wat Jesus as Verlosser aangeneem het, sal op die nuwe aarde bly en dit sal die nuwe hemel vir ons wees. Hier sal die nuwe Jerusalem reeds gebou wees en ons sal op strate wat soos goud lyk, loop.
Openbaring leer dat ons in verheerlikte liggame sal lewe in volmaakte vreugde en vrede. Nee, ons sal nie êrens in die wolke rondsweef as geeste nie. Alles sal perfek wees, sonder enige gebreke.
Hoekom? Iets groot sal daar ontbreek. Sonde. Sonde sal nie meer daar wees nie. Sonde sal nie kom breek en steel soos op die ou aarde nie. Siekte, swaarkry, finansiële probleme, selfs dood, is iets heel van die verlede.
Dis ware utopia waar God alleen heers. Waarom sal ons dan terugdink of verlang na die oue met sy gebreke en swaar tye? Beslis nie!
Hierna kan ons uitsien en ja, watter vooruitsig is dit nie. Laat hierdie toekomsverwagting ons petrol gee om vandag deur die swaar te beur. Laat dit die bagasie losmaak wat ons spoed breek en laat ons met volle vaart hardloop, sodat die wêreld ons kan volg om ook eendag in vrede en vreugde saam met ons op die nuwe aarde te speel.
Teks
2 Petrus 3:8-13
Om oor na te dink
Glo jy in die nuwe hemel en aarde?
Is jy op pad daarheen?
Hoe kan dit jou deur vandag help?
Gebed
Vader, dankie dat ons kan uitsien na die nuwe hemel en aarde. U kom altyd U beloftes na, daarom hoef ons nooit te twyfel of dit wel gaan gebeur nie. Jesus, ons sien uit na U wederkoms. Amen.