God se Woord in vandag se woorde

Die Planmaker


Baie keer sê mense dis as gevolg van die mense se dom keuses, veral daar in die tuin van Eden, dat God se plan A geflop het. Toe moes God ’n plan B instel, deur Jesus aan ’n kruis te laat sterf.

Dit is nie so nie. Jesus was nog altyd deel van die plan. Ja, ons verstaan nie regtig hoekom die plan so moes loop nie, maar ek glo dat God presies geweet het hoe die mens sou maak en nie maak nie.

Jesus se koms na die aarde was al vóór die skepping op die kaarte. 20God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie.

Eintlik is die plan al vir ewig, voor die bestaan van tyd, op die tafel gewees. God het ’n wonderlike plan saamgestel wat perfek uitgewerk het. Hierdie plan was om ’n perfekte offer, die volmaakte Jesus te gebruik.

Ons is in die bevoorregte posisie om deel te wees hiervan. Ons is nie soos die ouens van die Ou Testament verantwoordelik om diere te offer vir ons sondes nie. Ons hoef nie bekommerd te sit en planne maak oor hoe ons gaan pa staan vir die verkeerde dinge wat ons doen nie.

20… Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer.

Dankie tog daarvoor! Ons lewe in die AC en nie die DC nie. Ons lewe in die tyd nadat Jesus klaar op die aarde was. Ons is van die baie groot begenadigdes wat in die genade van Jesus se genadedaad kan baljaar.

Ek wonder of ons dit altyd besef? Ek wonder of ons altyd só leef dat die res van die wêreld kan sien dat ons Hemelse Vader se planne, wat Hy gemaak het nog voor die bestaan van alles, ingeskop het?

Ons moet weet dat God nie agterna, so as ’n afterthought, planne vir ons beraam het nie. Nee, die plan om ’n perfekte offer deur Jesus te bring, was van die begin af daar, vir jou en my.

Ja, ons was al in God se gedagtes van die begin af en hieraan kan ons vandag vashou. Dit kan ons beweeg. Dit is ons basis dat ons deel was van God se plan, nog altyd. Dit moet die vuur wees wat in ons aangesteek word om in die wêreld daar buite ’n verskil te maak.

Nee, nog meer as net ’n verskil maak. Ons moet ander gaan vertel. Ons moet ander gaan wys wat beteken dit om deel te wees van God se plan, wat ouer is as die wêreld. Mense moet ons kom vra wat maak ons so anders. Wat maak ons lewe anders. Hulle moet ook soos ons wil leef, omdat dit sigbaar anders en beter is as die res van die wêreld wat sonder Jesus probeer leef.

Laat ons vandag as verlostes gaan leef. Laat ons besef ons word deur God gesien. Ons is Sy geliefdes. Ons is Sy kosbare kinders en Hy sal vir ons help op die pad wat ons moet stap. Hy sal planne vir ons maak, soos wat Hy voor die skepping gemaak het. Hy is die bobaas Planmaker.

Teks
1 Petrus 1:17-21

Om oor na te dink
Glo jy in God se plan?
Glo jy dat God se Jesus-plan gewerk het?
Hoe kan ’n mens dit in jou lewe raaksien?

Gebed
Vader, dankie dat ek kan weet dat U die groot Planmaker is. Dankie dat ek nou kan leef in Jesus se genade. Help ook vir my om planne te maak vir my dag, sodat ander kan sien dat ek volgens U wil leef. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek